’n Onbekende man is verlede week in Claremont in die Kaap uit ’n toiletbak gered.

Die man het op die een of ander manier in die bak van ’n draagbare toilet vasgesit; so diep dat net sy bene, arms en kop uitgesteek het.

Baydu Adams, ’n blogger van Mitchells Plain, wat gesien het hoe die bisarre situasie ontvou, sê hy en verbygangers het ’n paniekerige geskree uit die toilet hoor kom.

Nadat hulle op die man afgekom het, moes veiligheidswagte, polisielede en ’n paar hulpvaardige omstanders 40 minute kopkrap om aan ’n manier te dink om hom te red.

“Die snaakse deel was dat terwyl twee of drie mense probeer help het, ander foto’s en video’s geneem het,” sê Baydu.

Eindelik kon die polisie die man met behulp van vullissakke uittrek. “En toe kom ’n kaal man te voorskyn wat sy geslagsdele met ’n T-hemp toehou!” sê Baydu. “Jy kan jou net indink waarmee die ou bedek was.”

Baydu sê van die omstanders het opgemerk die man se oë is rooi en hy lyk bedwelmd. Hy kon nie haweloos gewees het nie, sê Baydu, want hy het ’n iPhone of iPod by hom gehad

“Die hemel weet hoe en hoekom hy in daardie posisie beland het.”

Ons stem saam, Baydu. Ons stem saam.

BKKVFykCMAEs-5N

-Kirstin Buick