Slim vang sy baas! Die poets wat Slaiman Akl van Australië sy meisie wou bak, het lelik skeefgeloop. Slaiman – wat sy eie vermaakkanaal op YouTube het – deel gereeld video’s waarin hy sy naastes poetse bak, maar toe hy besluit om ’n bietjie pret te hê met sy meisie, Kate Martineau, het sy reeds die kamera gesien en geweet: Slaiman is weer op sy stukke . . .

A photo posted by Slaiman (@whealthbyslaiman) on

Aan die begin van die video verduidelik Slaiman hy gaan Kate ’n poets bak en haar daarvan beskuldig dat sy hom verneuk het. Slaiman kon netsowel ’n akteur gewees het, want hy vertolk sy rol bitter goed!

Hy begin deur haar te vra of sy hom al ooit verneuk het, waarop sy herhaaldelik nee antwoord. Maar dan kom hy met die skok-onthulling: Hy weet van alles! “Waarvan praat jy?” wil Kate in die video weet.

“Ek weet jy het my verkul,” antwoord Slaiman. “Ons het so ver gekom en dis hoe dit veronderstel is om te eindig?”

“Ek is eerlikwaar verward,” kap Kate terug.

Kyk ook: Kêrel se poets op sy neurotiese meisie blaas in sy gesig op

Toe Slaiman sê een van haar vriendinne het hom daarvan vertel, verhang Kate die bordjies. Sy laat sak haar gesig in haar hande. “Ek is regtig jammer, Slaiman.”

“Wat?” vra hy geskok.

Slaiman se poets is nie meer so snaaks toe Kate saamspeel nie. Natuurlik raak Slaiman baie ontsteld hieroor en storm die kamer uit. Teen die einde van die video verklap Kate sy het gesien hoe Slaiman sy kamera uit sy sak haal.

“Ek het geweet jy gaan iets doen,” sê sy vir Slaiman.

Die video, wat al meer as 2 miljoen keer op YouTube gekyk is, het baie reaksie ontlok. Sommige meen Kate se lyftaal en die feit dat sy nie een keer begin lag nie, bewys sy het Slaiman regtig verneuk. Kyk die video hieronder en laat weet ons wat jy dink.