Die man was na bewering op soek na sy beursie in ’n vullisdrom toe ’n vullistrok hom opskep en agterin gooi.

“Die man sê hy was ’n uur in die trok, maar ons skat dit nader aan drie of drie en ’n half uur,” het lt. Martin Torres gesê. “Die trok het nog op talle ander plekke vullis opgelaai voor dit sy vrag op die ashoop gaan stort het. Die bestuurder het toe die man handeviervoet uit die rommel sien kruip.”

Die man is hospitaal toe gebring met nek- en rugbeserings.

Torres sê as die bestuurder nie die man gewaar het nie, sou ’n stootskraper hom bes moontlik platgedruk het.

Die man kan ook, volgens Torres, dankbaar wees dat hy nie vroegoggend in die trok beland het nie. Wanneer die trok vroeg soggens vullis oplaai, word ’n lem onderaan sy opgaarkuil aangeskakel om meer plek te maak vir nuwe vullis.

“Hy kan bly wees hy leef nog,” meen Torres.

Bronne: orovillemr.com, yahoo.com