Die 37-jarige man is in hegtenis geneem op aanklagte van roekeloos bestuur endat hy die publiek se veiligheid in gevaar gestel het.

Hy het glo die tweesitplekvliegtuig op dieselfde dag gekoop en was op pad huis toe toe hy besluit om eers vir ’n drankie stil te hou.

Die polisie in Newman sê hy het wel negatief getoets vir dronkbestuur, maar word daarvan aangekla dat hy inwoners se lewe, gesondheid en veiligheid in gevaar gestel het omdat hy die enjin laat loop het en die skroef nog gedraai het.

Hy het ook nie eens ’n vlieënierslisensie nie.

“Die paaie was besig en vol motors. Die skool het net uitgekom en daar was oral kinders. Dit kon baie lelik geëindig het. Al wat hy nodig gehad het, was een rukwind, want die vliegtuig is nie baie stabiel sonder sy vlerke nie,” vertel sers. Mark McKenzie.

Hy het hom “dom” gehou toe die polisie hom ondervra, sê ’n kroegman by die Newman-hotel. Dié beskryf hom as “ ’n plaaslike karakter”.

Die man kom op 18 November voor.

- Janine Nel

Bron: mirror.co.uk