Hierdie is omtrent ’n grillerige affêre.

’n Kunstenaar van Perth in Australië voer al vir die laaste nege jaar iets in die mou.

En dis allebehalwe wat jy jouself sou kon indink.

Die kunstenaar, net bekend as Stelarc, groei al vir byna ’n dekade lank ’n derde oor – op sy arm.

“As ’n lyf-kunstenaar stel ek veral belang in die idee van die ná-mens; die idee van ’n bioniese mens (‘cyborg’),” het Stelarc aan CNN gesê.

“Wat dit beteken om ’n mens te wees gaan binnekort nie meer deur jou biologiese struktuur bepaal word nie, maar miskien grootliks deur al die tegnologie wat by jou ingeprop word,” het hy bygevoeg.

Stelarc se naam was eers Stelios Arcadiou voordat hy dit 45-jaar gelede wettig laat verander het. Hy het glo die idee om ’n derde oor op sy arm in te plant reeds in 1996 gekry.

Hy kon egter eers ’n dekade later ’n dokter opspoor wat ingestem het om gehoor te gee aan sy wens.

Die ekstra oor is vervaardig uit biomateriaal wat gewoonlik tydens plastiese chirurgie ingespan word.

Volgens die Huffington Post wou Stelarc eers die oor agter een van sy regte ore inplant, maar het toe op sy arm besluit omdat die vel daar meer gerek kon word om die oor te huisves.

Gaandeweg het Stelarc se eie liggaamsvel en bloedvate rondom die oor gegroei totdat dit vandag permanent deel van sy liggaam is.

Volgende wil Stelarc graag ’n miniatuur mikrofoon in die oor aanbring wat met Wi-Fi aan die internet verbind sal wees. “Die oor is nie vir my nie; ek het twee goeie ore om mee te hoor. Die oor is sodat mense in ander plekke na my kan luister.”

Mense sal so ook via GPS kan dophou waar die oor – en Stelarc self – hom te alle tye bevind.

Nou het ons regtig alles gehoor.

Bronne: CNN; Huffington Post; abc.net.au