Muhammad Firdaus Othman het die duur vis gekoop om vir vriende te kook – maar dit het tot hewige teenreaksie van internetgebruikers gelei. Hy het sowat R8 600 vir ’n flowerhorn cichlids, ’n kleurryke tropiese vis, betaal.

Die vis is pienk of rooi en het ’n knop op sy kop wat glo ’n gelukbringer is. Dit word algemeen as troeteldier aangehou en is gelief regdeur Asië.

Foto: Magazine Feature

Maar die Maleisiese man het die gesogte vis gekoop om gaar te maak en te eet, iets wat diereliefhebbers warm onder die kraag gemaak het.

Othman (28) het die vis by vriende gekoop en die knop verwyder voor hy dit met borrie gegeur, gebraai en vir vriende voorgesit het, het die plaaslike media berig.

Hy het in die sosiale media ’n video gedeel waar hy die vis berei en gesê dit was “smaaklik, soet en sappig. Die vis proe soos tilapia, maar lekkerder. Ek en my vriende het tot dusver nog geen teenreaksie daarop gehad nie.”

Foto: Magazine Features

Die video is gekritiseer en internetgebruikers was woedend dat die troetelvis geëet is.

Een gebruiker het gevra hoe hy dit oor sy hart kon kry om die vis te eet, maar hy het die kommentaar afgemaak en gesê: “Vis is ’n kossoort. Die helder en mooi voorkoms beteken nie jy kan nie daaraan raak nie.”