Ashok Khumar is Sondag in Ghaziabad, Indië, in hegtenis geneem nadat sy vrou, Sunaina, Saterdagaand met ’n koeëlwond in haar kop in die hospitaal opgeneem is. Sy is egter dood verklaar met haar aankoms by die hospitaal.

Khumar se inhegtenisname volg nadat sy seun Rinku (32) ’n klagte by die Kavi Nagar-polisiestasie teen sy pa gelê het.

“My pa het omstreeks 21:00 dronk by die huis aangekom en 23:00 het hy my ma gevra vir aandete. ’n Rusie het tussen die twee uitgebreek toe my ma geweier het om hom onmiddellik te bedien. My pa was woedend en het sy vuurwapen uitgeruk. Hy het haar gedreig.

“Ek, my vrou, Soni (28) en my broer, Tinku (28) het probeer keer. Maar hy het die skoot afgevuur en haar in die kop getref. Sy het net daar ineengestort.” het Rinku aan Times of India gesê.

Die twee seuns, asook Soni en haar twee kinders, onderskeidelik sewe en vier jaar oud, was almal in die huis ten tyde van die voorval.

Rupesh Singh, ’n senior polisiebeampte het gesê Khumar het skuld beken en het berou oor sy dade.

“Hy drink gewoonlik elke dag. Sy vrou was ontsteld oor sy drankgewoonte en wou met hom daaroor praat. Hy wou egter dadelik sy aandete hê,” het Singh aan die BBC gesê.

Intussen het die polisie aangedui daar is beslag gelê op die vuurwapen, ’n .315 rewolwer, en dat dit onwettig in Khumar se besit was.

Geweld teen vroue in Indië

  • Huishoudelike geweld teen vroue is reeds vir langer as die afgelope tien jaar die misdaad wat die hoogste aanmeldingsyfer in die land het.
  • In 2015 is daar elke vier minute ’n voorval van huishoudelike geweld aangemeld. Dit sluit in bruidskatsterftes, misdaad en teistering oor ’n bruidskat asook wreedheid deur die vrou se man of sy familielede teenoor die vrou.
  • Vroue word in die land oorwegend grootgemaak om haarself as ’n natuurlike afhanklike te beskou. Haar keuses is beperk en ’n huwelik dra meer gewig as enige van haar opinies.
  • Sy word ook gelei om die volle verantwoordelikheid te aanvaar vir die sukses van hul huwelik.
  • “Huweliksverkragting” kan steeds deur die Indiese samelewing as die man se reg erken word.
  • Die Indiese regering het ’n gesinsopname van stapel gestuur. Meer as 54 persent van die mans en 51 persent van die vroue wat deelgeneem het,  het aangedui dis in orde vir ’n man om sy vrou te slaan wanneer sy byvoorbeeld haar skoonfamilie nie genoeg respekteer nie, haar huis of kinders verwaarloos of selfs iets so gering soos te min sout in sy kos sou gooi.

Bronne: bbc.com, timesofindia.indiatimes.com, independant.co.uk, poverties.org