Vriende en familie van die vermoorde Shayleen van Zanten sal hopelik meer berusting kan kry wanneer die beskuldigde in die saak verhoor word. Die 23-jarige Mbeki Mlatha is op 3 Desember in verband met die moord van die voormalige leerder van Hoërskool Eldoraigne in Centurion in hegtenis geneem. ’n Bietjie meer as ’n jaar gelede het Shayleen (toe 15 jaar oud) en haar pa, Arie, by familie op Trafalgar aan die suidkus gaan kuier.

Sy en ’n vriendin het op 16 Desember vroegaand gaan stap. Hulle het ’n man gesien wat hulle genader het en omgedraai, maar net voor hulle by die hek van die huis kon inkom, het hy hulle voorgekeer en ’n selfoon gevra. Shayleen het geweier om haar foon te oorhandig en is herhaaldelik in haar bors, lende en arm gesteek. Sy is inderhaas hospitaal toe geneem, maar het later aan haar beserings beswyk. Volgens kapt. Nqobile Gwala is Mbeki met behulp van ’n uitkenningsparade deur Shayleen se vriendin uitgeken.

Mbeki het reeds in die Ramsgate-landdroshof verskyn en word aangehou tot hy weer op 5 Januarie sal voorkom.

Ekstra bronne: iol.co.za, timeslive.co.za