Die storie agter dié foto, wat soos ’n veldbrand aanlyn versprei, sal jou ’n warm gevoel om die hart gee. Ridderlikheid bestaan nog.

Deepak Saini was op die punt om die Amerikaanse kleinhandelaar Target te verlaat, toe hy sien dit stortreën buite.

“Daar was ’n hele klompie mense wat gewag het dat die storm bedaar,” het hy op Facebook geskryf. “Toe sien ek ’n gawe man wat vroue, ma’s en hul kinders, beurtelings onder die beskerming van sy sambreel na hul motor vergesel. “Ek is seker hy was ’n besige mens en moes na sy eie gesin terugkeer. Maar op daardie oomblik het dit nie saak gemaak dat hy swart was en die vroue in hierdie prentjie wit nie. Dit was een mens wat ’n ander gehelp het.”

Hierdie plasing, wat uiters gewild is, het meer as 9 000 reaksies ontlok en dit is meer as 3 800 keer gedeel.

“Deesdae lyk dit asof ons so ingestel is op ras en ons laat toe dat ons pynlik verdeel word. Ons behoort almal goeie dade aan mekaar te bewys; dus behoort hierdie man ’n voorbeeld te wees vir ons elkeen.”