Die polisie in Kansas het 'n 44-jarige man in hegtenis geneem wat daarvan beskuldig word dat hy sy seun vermoor het en sy lykie vir die varke gevoer het. Oplettende bure het die polisie genader nadat hulle die 7-jarige vir 'n geruime tyd nie gesien het nie. Hulle was reeds besig om die man rakende 'n saak van aanranding te ondersoek. Daar word vermoed dat die oorblyfsels wat die polisie in 'n skuur in die agterplaas gevind het, dié van die vermiste seun is.

"Die kinders het in smerige toestande gebly"
Alhoewel die huis waarin die seun gewoon het, in waarde op 'n kwartmiljoen dollar geskat word, is dit alles behalwe 'n goedversorgte tuiste. Die werf is morsig met rommel en hope kinderspeelgoed wat rondlê. Die 7-jarige seun was een agt kinders wat by Michael A Jones en sy vrou gebly het. Die oorlewende sewe, van 1-11 jaar oud, is nou in beskermende bewaring. "Die huis is baie vuil, die kinders het in smerige toestande gebly," het 'n anomiene vrou aan cnn.com vertel. Sy is een van twee wat gereeld na die agt kinders omgesien het.  

"Dit moes absoluut afskuwelik vir die meisies gewees het om te sien waardeur hulle broer gegaan het. Meer nog, om die las te dra van die wete wat met hom gebeur het."

Wat die voorval nog meer afgryslik maak, is die feit dat Jones se vrou vanaf September varke in die skuur aangehou het. Die polisie vrees dat die kind vir die varke gevoer is nadat hy deur sy pa doodgeslaan is.

• Jones word daarvan beskuldig dat hy ook sy vrou aangerand het. Hy word deur klagtes van aanranding met verswarende omstandighede, aanranding met verswarende omstandighede met 'n vuurwapen en 'n klag van ernstige kindermishandeling in die gesig gestaar. Nog verdere klagtes kan moontlik bygevoeg word. Sy borg is op $10 miljoen vasgestel. Hy het nog nie in die hof verskyn om te pleit nie.

Bronne: kctv5.com, cnn.com,nydn.us