In 'n merkwaardige video kan gesien word hoe ’n man van Brasilië nie net wakker bly terwyl artse aan sy brein opereer nie, hy sing doodluiters Yesterday deur The Beatles. En begelei hy homself boonop op die kitaar. Anthony Kulkamp (33) het ’n groot breingewas laat verwyder. Dokters moes hom egter tydens die operasie konstant monitor om te bepaal of sy sintuie, beweging en spraak aangetas word.
Net die vel het pynsensors; die brein self kan niks voel nie.

Terwyl Anthony nog perfek kon sing, het hulle geweet hulle het nie ’n deel van sy brein beskadig wat dalk sy spraak of beweging kan belemmer nie.

Een van Anthony se dokters, dr. Jean Abreu Machado, het gesê om ’n pasiënt wakker te hou tydens ’n breinoperasie “is ’n groot uitdaging vir sowel die dokters as die narkotiseurs, maar so kan die pasiënt se reaksies deurentyd gemonitor word”.

Volgens hom het net die vel pynsensors en kan die brein self niks voel nie. Daarom hoef net die kopvel plaaslik verdoof te word.

Hoe dit tans met Anthony gaan, is onduidelik.

Bronne: ABC News; The Daily Mail

Kyk die video van Anthony wat sing tydens sy breinoperasie hier: