Samuel Velasco Gurrola se koelbloedige moordkomplot klink soos iets uit ’n spanningsfliek. Dis amper te brutaal om waar te wees.

Maar hy is op 17 Oktober 2016 in die El Paso-hof skuldig bevind aan sewe aanklagte, waaronder een van moord.

[caption id="attachment_142801" align="aligncenter" width="600"]Die hof in El Paso, Texas. Die hof in El Paso, Texas.[/caption] Die man, van El Paso in Texas, het sy bose planne vir drie huurmoorde laat deurvoer en drie familielede het in 2008 met hul lewe geboet. 'n Onskuldige man is ook in een van die voorvalle doodgeskiet.

Sy teikens? Sy vrou, Ruth Sagredo, haar suster, Cinthia Sagredo Escobedo (40), en hul pa, Francisco Sagreao Villareal (69).

Die motief? Hy wou keer dat Ruth teen hom getuig in ’n saak van onsedelike aanranding met verswarende omstandighede. Die voorval het in 2005 plaasgevind, en die slagoffer, ’n kind, was familie van Ruth. Die kind was egter te jonk om te getuig. Ruth kon, en sy was baie vasberade om Gurrola se turf te laat sit vir die dade wat hy gepleeg het. Luidens berigte sou die misdrywe hom 99 jaar tronkstraf besorg het. Gurrola is nie ’n aangename mens nie. Behalwe dat hy die huurmoorde beplan het, het hy sy broer, Emmanuel Velasco Gurrola, en sy suster Dalia Valencia by sy slu planne betrek.

Intussen soek die polisie ook na hul ander suster, Monica Velasco (42), in verband met die moordplanne. Monica (foto) word as ’n “stil dame wat dalk in haar familie se dade verweef geraak het”, bestempel.

Die driestuks het glo dwelms oor die Mexikaanse en Amerikaanse grens gesmokkel. Hulle het van hul kontakte in Mexiko ingespan om Ruth se pa in Juarez, Mexiko, te vermoor.

Dit moes soos ’n kartelmoord lyk en om dit meer oortuigend te maak, is ’n masjiengeweer vir die moord gebruik. Masjiengewere is 'n kenmerk van kartelmoorde.

[caption id="attachment_142802" align="aligncenter" width="600"]Ruth se pa is eerste deur die huurmoordenaars afgemaai. Foto: YouTube-skermgreep. Ruth se pa is eerste deur die huurmoordenaars afgemaai. Foto: YouTube-skermgreep.[/caption]

Hulle het gehoop Ruth se pa se dood sou haar na sy begrafnis lok, waartydens sy dan vermoor sou word. Maar volgens die El Paso Times het streng polisieteenwoordigheid by die begrafnis hul planne in die wiele gery.

Hul volgende stap was om haar suster te vermoor. Cinthia het ook in Juarez gebly. 'n Gemaskerde man het haar op 20 November doodgeskiet. Toe sy op 22 November 2008 begrawe word, is haar begrafnisstoet in ’n lokval gelei. Ruth en ’n medewerker, Roberto Martinez, het in die aanval omgekom.

Gurrola is aangekla van drie klagte van sameswering om moord te pleeg, drie klagte van sameswering om buitelandse reise vir die huurmoorde te organiseer en een moordklag,  Roberto se dood.

Hy sal in Januarie 2017 gevonnis word en sal na verwagting lewenslange tronkstraf opgelê word.

Sy sibbes het reeds skuld erken op klagte van sameswering. Hulle sal in Desember gevonnis word.

Bronne: torontosun.com, elpasotimes.com, lawnewz.com, cbs4.com, cbsnews.com