'n Man wat onwettig in Kaapstad beland het deur voor te gee hy's 'n student, het vandeesweek erken dat hy ook 'n maatsoekwebtuiste ingespan het om vroue te bedrieg.

Ndubusi Ifediora (31) het in die spesialishof vir handelsmisdaad in Bellville verskyn nadat hy die vroue deur sosialemediaslenters glo met meer as R1,2 miljoen ingeloop het.

Hy het sover bekend onder die skuilname Michael Brich en Scott Egil, daarin geslaag om minstens twee vroue van Texas, Amerika, 'n volslae rat voor die oë te draai.

Ifediora het tydens sy pleidooi erken dat hy kwesbare en eensame vroue geteiken het. Dit het ook in samewerking met ander lede van 'n sindikaat plaasgevind.

Vrou vertel: Ek was die slagoffer van 'n internetafspraak-slenter

Deel van die sindikaat se modus operandi is om lukraak foto's van aantreklike mense in te span om 'n vals profiel op maatsoekwebtuistestes skep. In die geval van Ifediora is Match.com ingespan om die vroue te bedrieg. Die webwerf roem daarop dat dit in 24 lande aktief is en 15 verskillende tale kan akkommodeer. Dit is dus heel verstaanbaar dat Patti Kilpatrick van Texas nie snuf in die neus gekry het toe sy ene "Michael Brich", wat volgens sy profiel in Duitsland grootgeword het, in die kuberruim raakloop nie.

Ifediora het die pap dik aangemaak en homself as 'n wewenaar met een seun wat medies studeer, beskryf.

Na sy katoeters glo gesteel is, het Patti vir hom 'n Apple-rekenaar, 'n iPhone en 'n Apple-horlosie ter vervanging daarvan gestuur.

Lees ook: Drie Suid-Afrikaners gesels oor duur romantiese aanlyn ontmoetings

En toe die arme "Scott Egil" vir Rita Love, ook van Texas, laat weet dat hy probleme met toerusting het en dat sy kredietkaart spore gekry het, het sy geld vir hom oorgeplaas.

Dié vriendskap het in Maart vanjaar afgeskop.

Ondersoekspanne raam die bedrag wat die twee vroue aan hom betaal het, op naastenby R1,4 miljoen.

Ifediora was nie net by aanlynslenters betrokke nie. Hy het Suid-Afrika binnegekom met 'n studentevisum nadat hy valslik aan Binnelandse Sake voorgegee het dat hy by 'n tegniese kollege geregistreer is.

Hy word van sameswering om bedrog te pleeg en die oortreding van die Immigrasiewet aangekla.

Ifediora is intussen na Nigerië deporteer.

Kaptein Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap, het die vonnis verwelkom. Die uitspraak is boonop gemaak tydens Kubermisdaad-bewustheidsmaand.

Ifedoria is tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis, opgeskort vir vyf jaar.

Hy is ook deur die hof beveel om R500 000 in die bate-herwinningsfonds te stort om seker te maak sy slagoffers word terugbetaal.

Kaptein Ramovha het die Valke-span geloof vir hul uitstekende werk en gesê "dis 'n oop geheim dat sake van hierdie aard nie maklik is om op te los nie."

Die span het beslag gelê op drie selfone en drie skootrekenaars in Ifedoria se woonstel in Rochesterstraat, Table View.

Hulle moes deur elektroniese bewysstukke werk vir 16 klagte van bedrog. Maar dit was nie al nie. Ifediora het 'n sim-kaart in die toilet afgespoel toe hy in Junie vanjaar in hegtenis geneem is.

Hy het weldra erken dat daar inkriminerende getuienis teen hom op die kaart was.

Lees ook: Hierdie 7 goed moet jy nooit aanlyn deel nie

Kaptein Ramovha het weer eens die publiek gewaarsku om nie op e-posse, sosialemedia-uitnodigings en aanlynboodskappe van onbekende persone te reageer nie.

Hy het ook gesê dat mense moet onthou "as iets te goed is om waar te wees, dan is dit gewoonlik so."

Bron: News24