Volgens ’n verslag van Central European News was slegs een snuffie van ’n 100-joean-noot (sowat R185) al wat nodig was om Xia Li, ’n inwoner van Sjenzhen, te laat bykom nadat hy bewusteloos in sy hospitaalbed gelê het.

“Dit was ongelooflik,” het die hoofarts, dr. Liu Tang, gesê. “Dis die eerste keer in die 20 jaar dat ek as dokter praktiseer dat ek so iets teëkom.”

Li het in Augustus 2013 in ’n koma geraak nadat hy byna ’n week sonder slaap in ’n internetkafee deurgebring het.

Volgens CEN was hy besig om sake-idees na te vors toe hy sy bewussyn verloor.

Dokters het maande lank vrugteloos gesoek na ’n manier om Li by te bring. Dit was eers toe sy familie onthul het wat dit was waarvoor hy die liefste in die wêreld is dat hulle die sleutel tot sukses ontdek het.

“Ons het sy familie gevra wat sy werklike dryfveer in die lewe is en hulle was baie oortuig dat dit geld is,” het Tang gesê.

“Toe ons uitvind van sy liefde vir geld, het ons met note en kleingeld geëksperimenteer. Herinnerings aan reuk en smaak kan baie kragtige stimulante wees,” het hy bygevoeg. “Ons het bevind dat ’n vars, nuwe 100-joean-noot wat onder sy neus opgefrommel is, die beste uitwerking gehad het.”

Solank Li terapie ondergaan, hou sy familie aan hoop vir die beste, maar die dokters het hulle aangeraai om versigtig te bly.

“Dit gaan nog lank duur voor hy ontslaan kan word,” het Tang verduidelik. “Maar hy toon goeie vordering.”

Bronne: The Mirror, New York Post