Jeanette October (58) is Maandagaand in haar huis in Parkdene, George, in die Wes-Kaap doodgeskiet, berig die George Herald.

Familielede van Jeanette het aan die George Herald gesê die beweerde skieter, Eswill Biel (41), het gesê: “So gaan ek die gemorste een vir een doodskiet.” Hy het daarna na sy sakeonderneming oorkant die pad gestap.

Biel is glo die eienaar van ’n taverne oorkant Jeanette se huis. Volgens kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het Jeanette, haar seuns en Biel glo voor die skietvoorval ’n woordewisseling gehad.

“ ’n Bakleiery het daarna uitgebreek. Die verdagte is toe terug na sy taverne om sy vuurwapen te gaan haal.”

Volgens Malcolm is Jeanette in die skouer en bors geskiet.

Woedende inwoners het Biel daarna agternagesit en hom met ’n skerp voorwerp aangerand.

Volgens Malcolm het lede van die gemeenskap Biel se houthuis aan die brand gesteek. “Die huis is heeltemal vernietig.”

Biel is per ambulans na ’n nabygeleë hospitaal geneem waar sy besering behandel is. “Hy is daarna na die polisiekantoor geneem waar hy aangehou is.”

Biel het Woensdagoggend op aanklag van moord in die hof verskyn. Hy is in aanhouding en sal op 13 Desember om borgtog aansoek doen, berig die George Herald.

Volgens Malcolm ondersoek die polisie ook ’n saak van brandstigting. Niemand is nog aangekeer nie.