’n Man het Spur by die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde (GRS) gaan verkla nadat hy ontdek het sy 200 g ribbetjies weeg nie soveel as wat geadverteer is nie. Die saak is egter van die hand gewys omdat die GRS bevind het dat Spur se reklame nie misleidend was nie.

Lyndon van Wyk het gesê hy het die ribbetjies geweeg en dat dit 130g geweeg het. By navraag is hy ingelig dat die kos geweeg is toe dit rou was, wat die verskil verklaar. Lyndon het by die GRS gekla oor Spur se spyskaart wat “Dinsdag se 200 g ribbetjies en vier hoendervlerkies” vir R49,95 adverteer. Hy het gesê die ribbetjies het nie 200 g geweeg soos geadverteer nie.

Die Spur-groep het gereageer en gesê daar is wigte en teenwigte op streeks- en hoofkantoorvlak. Hulle het gesê hul gehaltebeheerstelsel verseker dat die regte produkte en gewigte aan klante voorgesit word.

Vertroulike inligting is ingedien om die punt te illustreer. Spur het gesê hoewel hulle alles in hul vermoë doen om te verseker dat produkte volgens bemarkingsmateriaal berei word, kan dit gebeur dat ’n verkeerde porsie dalk weens ’n menslike fout op die bord kon beland het.

Spur het gesê al hul kos se gewig word as rou massa geklassifiseer omdat klante se voorkeure wissel wat die gekookte produk betref. Hulle het as voorbeeld genoem dat ’n halfgaar biefstuk meer sal weeg as een wat goed gaargemaak is. Dié konsep word op alle spyskaarte gedruk en is standaardpraktyk in die restaurant- en kosbedryf, het Spur gesê.

Die GRS het die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) versoek om hul mening oor die saak te lug. Die NRVS het gesê die vleisporsie (200 g) was rou massa omdat dit bykans onmoontlik is om ’n gaar produk te weeg. Die reguleerder het bevind dis nie regverdig om te verwag dat die gaar produk gelykstaande aan die aangeduide gewig moet wees nie.

Die GRS het in hul beslissing gesê die punt is ook gelug dat die bereidingsmetode ook ’n uitwerking op die gewig sou hê, waarskynlik weens die verlies aan vog in die vleis. – Sapa