B-ovxiqVIAAjsmf

Kevin Dixon (35) van Newsome in West Yorkshire het aan die hof gesê dat hy “gedoen het wat gedoen moes word”. Hy het volgehou Tempa, die Akita-agtige hond wat behoort het aan sy buurvrou, Amanda Harmer, het nie gely nie en bygevoeg “alles, van die eerste tot die laaste hou, was binne 10 sekondes oor verby”.

Volgens ’n berig in The Huddersfield Daily Examiner het Amanda in Mei verlede jaar ’n partytjie gehou en Tempa het daar ’n vrou in die gesig gebyt. Dit was nie die eerste keer dat Tempa iemand gebyt het nie, en die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (RSPCA) is genader. Dié het aanbeveel dat die hond die volgende oggend na ’n veearts toe geneem moes word. Dit lyk egter of Dixon besluit het om sake in eie hande te neem. Hy het aangebied om met Tempa te gaan stap, maar alleen teruggekeer.

‘Dit het goed gevoel. Dit was nie maklik nie; hy het gespartel.’

Toe Amanda hom vra waar die hond is, het Dixon geantwoord: “Ek het gedoen wat gedoen moes word,” het Philip Brown, die aanklaer namens die RSPCA, aan die hof gesê.

“Hy het melding gemaak van ’n byl en gesê: ‘Dit het goed gevoel. Dit was nie maklik nie; hy het gespartel.’ Sy was geskok en het van hom af wegbeweeg.”

Toe hy die volgende dag in hegtenis geneem is, het Dixon aan die polisie beken dat hy Tempa doodgemaak het en het aan hulle die plek uitgewys waar hy die hond begrawe het.

Dixon het aan die hof gesê hy was bekommerd oor die aantal kere wat die hond al mense gebyt het. Hy het vir Amanda gesê: “Ek gaan nie toelaat dat hierdie hond in dieselfde huis as die kinders op die boonste verdieping bly nie.”

Die saak word aanstaande maand voortgesit.

Bronne: The Mirror, The Huddersfield Daily Examiner