“My hart, my hart!”

Dit was al wat Carine van Staden (28) kon uitkry toe ’n man wat met ’n militêre voertuig gery het, haar skiet.

“Alles het so vinnig gebeur,” vertel haar verloofde, Johan Harmse (29). “Daar was nie tyd om bang te wees nie. Die oomblik toe sy neerval, het ek na haar toe gegaan.”

Die voorval het Donderdagaand omstreeks sesuur in Braam Pretoriusstraat in Pretoria gebeur.

Carine en Johan was op sy motorfiets op pad na vriende toe ’n Audi hulle eers van die pad probeer dwing en later die kant van hul motorfiets tref.

Die motor het weggejaag en Johan het dit agternagesit om die motor se registrasienommer met die kamera op sy valhelm vas te lê. Toe die motor eindelik stilhou, het Carine van die motorfiets afgeklim en aan die ruit gaan klop om die bestuurder te konfronteer. 

Johan sê die volgende oomblik het ’n man, geklee in ’n wit hemp en swart broek, uit die motor geklim, ’n vuurwapen op haar gerig en haar geskiet. Hy het die wapen ook op Johan gerig, maar hy het sy hande in die lug gehou en op Carine neergeval.

“Daar was mense agter ons wat gesien het wat gebeur. Een ou het sy motor se deur oopgemaak om my te help om Carine in te laai. 

“Ons het hospitaal toe gejaag en ek het haar heeltyd probeer wakker hou.”

’n Ooggetuie het die man agternagesit om sy nommerplaat af te neem. Volgens Johan dui die registrasienommer daarop dit ’n militêre voertuig is.

Die koeël het Carine se hart net-net gemis, maar is deur haar linkerlong en by haar blad uit.

Vrydagmiddag toe Johan by haar in die hospitaal kuier, het hy gesê sy lyk onder omstandighede baie goed. “Sy sit regop en kan gesels.”

’n Adjudant-offisier van die Sinoville-polisiekantoor sê die man, wat ’n korporaal is, was glo onder die indruk hy word gekaap en het ná die voorval na die polisiekantoor gery. “Hy word nie aangehou nie en ons ondersoek ’n saak van poging tot moord. Die dossier sal aan die vervolgingsgesag oorhandig word en hulle sal besluit of iemand vervolg moet word.”