’n Vragmotorbestuurder is Donderdagoggend in die kop geskiet tydens ’n kaping op die N3 in die Buccleuch-wisselaar noord van Johannesburg, sê paramedici.

Paramedici het kort voor 10:00 op die toneel aangekom en gesien ’n vragmotorbestuurder en veiligheidswag is tydens ’n skietery gewond, sê Max Cohen van Emer-G-Med.

Max sê daar is aangemeld ’n groot groep gewapende verdagtes het twee vragmotors, wat selfone vervoer het, gekaap.

Hy sê die bestuurder en die veiligheidsbeampte het albei kritieke beserings opgedoen.

Gevorderde lewensondersteunings-paramedici van Emer-G-Med het hulle gestabiliseer en na ’n gespesialiseerde traumahospitaal daar naby vervoer.

Hy sê paramedici en hul gespesialiseerde taktiese honde-eenheid is op die toneel.

Die plek waar die N1 noord en die N3 skei is vir verkeer gesluit weens intensiewe ondersoeke van die misdaadtoneel.

Motoriste kan hewige vertragings verwag.

Die polisie was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Bron: News24