Dit was die ysingwekkende woorde van ’n Russiese man nadat ’n selfdoodspeletjie wat hy geskep het, tot minstens 16 meisies se dood gelei het.

Philipp Boedeikin (21) is in aanhouding nadat hy Blue Whale geskep het, die speletjie wat verband hou met die dood van meer as ’n dosyn skoolmeisies.

Boedeikin, wat sedertdien erken het hy het die sterftes aangehits, het aan die polisie gesê sy slagoffers “was tevrede om te sterf”.

Die speletjie behels dat kwesbare tieners ’n rits take oor 50 dae uitvoer – onder meer gruwelflieks kyk, in die middel van die nag opstaan en hulself skend. Op die 50ste dag word die toegewyde deelnemers aangemoedig om hul eie lewe te neem.

“Boedeikin het baie duidelik geweet wat hy moes doen om die gewenste resultaat te kry,” sê Anton Breido, ’n senior lid van die ondersoekspan in Rusland.

“Hy het in 2013 begin en sedertdien sy taktiek verfyn en sy foute reggestel. Philipp en sy helpers het kinders eers na Britse (sosialemedia-) groepe gelok met uiters vreesaanjaende video’s. “Hul taak was om soveel moontlik kinders te lok en dan uit te pluis wie die meeste deur sielkundige manipulasie geraak wou word. “Diegene wat gebly het, is veel erger take gegee, soos om hul slagare te sny, op ’n dak te balanseer, ’n dier dood te maak en ’n video of foto’s te plaas om dit te bewys.”

Die selfdoodmeesterbrein word in ’n tronk in Sint Petersburg aangehou. Tronkbeamptes sê hy het al ’n spul liefdesbriewe van tieners ontvang. Volgens sielkundiges het meisies wat ’n gebrek aan liefde en aandag van hul ouers ervaar, die grootste kans om op Boedeikin verlief te raak. Joelia Konstantinowa (15) en Weronika WolkoWa (16) het in Februarie na hul dood geval nadat hulle na bewering by Blue Whale betrokke was. Joelia het glo hierdie foto op Instagram gedeel kort voor sy selfdood gepleeg het.

Angelina Dawidowa (12) het op Kersdag in 2015 na haar dood gespring. Sy het voor haar dood op die gebruikersgroep Wake Me Up at 4.20 aangeteken. Nog ’n slagoffer, die 15-jarige Wilena Piwen, het van die dertiende verdieping van ’n gebou in Oekraïne gespring. Volgens haar klasmaats is sy met snywonde aan haar arms by die skool gesien. Maar Boedeikin toon geen berou nie. Gevra of hy regtig die kinders aangepor het om hul eie lewe te neem, het hy geantwoord: “Ja. Ek het dit werklik gedoen. Moenie bekommerd wees nie, julle sal alles verstaan. Almal sal verstaan.
“Hulle het gelukkig gesterf. Ek het hulle gegee wat hulle nie andersins gehad het nie: warmte, begrip, verbintenisse.” As jy selfdoodgedagtes het of met depressie worstel, praat met ’n goeie vriend of familielid en soek hulp.

Life Line (Johannesburg): 011-728-134

Life Line (Kaapstad): 021 461 1113

Die Suid-Afrikaanse Angs-en-depressiegroep (Sadag): 011-234-4837

Vir ’n selfdoodnoodgeval: 0800-567-567

24-uur-hulplyn: 0800-12-13-14

Bronne: metro.co.uk, nzherald.co.nz