Aanklaers het ’n man in Chile vervolg omdat hy ’n babadogtertjie aanlyn vir sowat R1 122 gekoop het, toon hofdokumente.

’n Akte van beskuldiging het gesê die baba se 18-jarige ma het haar op 6 November verlede jaar oorhandig, twee dae ná haar geboorte. In ruil daarvoor het sy die geld aanvaar en die man het die koste van die bevalling by ’n hospitaal in Santiago gedra.

Die saak het die owerheid se aandag in Januarie getrek nadat die baba se biologiese pa die kind aan ontvoer aangemeld het.

Intussen het die beweerde koper, Juan Carlos Pacheco, die baba in sy naam geregistreer; sy het by hom en sy lewensmaat gewoon “asof sy hul eie dogter was”, het die dokument genoem.

Aanklaers wil twee jaar tronkstraf vir die koper hê, wat op 11 November saam met die baba se ma, Veronica Carrera, verhoor sal word.

Veronica se ouma en tante word as medepligtiges vervolg.

Bron: Sapa-AFP/GM