Die polisie van Palm Beach is Vrydag in die vroeë oggendure na ’n dierehospitaal ontbied vir ’n klag oor wreedheid teenoor diere.

Toe die polisie by die hospitaal opdaag, het hulle die sjitsoe, Cujo, gekry met sy oog wat uit die oogkas hang. Die polisie sê Cujo se eienaar het vir hulle gesê haar seun David Etzel (36) het gedrink en die hond begin terg.

Luidens die inhegtenisnemingverslag het David die hond aan sy keel opgetel. Die hond het David in die gesig gebyt en David het die hond teruggebyt. Toe hy die hond laat sak, kon David se ma sien die hond se oog hang uit sy kas, lui die verslag.

Haar ander seun het wakker geword en saam met haar die tweejarige hond veearts toe gebring.

Die veearts het aan die polisie gesê sy sien sulke trauma wanneer ’n hond deur ’n motor getref of deur ’n ander hond aangeval is. Sy sê die aanval moes baie gewelddadig gewees het om sulke ernstige beserings te veroorsaak, luidens die verslag.

Luidens die verslag het die polisie David vas aan die slaap by sy huis in Lake Worth gekry. Hy het vir die beamptes gesê Cujo het hom gebyt, maar hy sou die hond nooit seergemaak het nie.

David word aangekla weens wreedheid teenoor diere.

Bronne: Sun Sentinel, New York Daily News