’n Baba is dood en die kind se ma beseer nadat die kind se pa hulle na bewering op Sasolburg in die Vrystaat aangerand het, het die polisie Sondag gesê.

Volgens die woordvoerder lt. Livhuhani Hani word klagte van moord, poging tot moord en selfdood ondersoek nadat die man hom gehang het.

“Daar word beweer ’n 38-jarige vrou van Rossentville in Johannesburg het Saterdag omstreeks 18:30 na haar kêrel se huis in Germiston gegaan om melk vir hul agt maande oue baba te vra,” het sy gesê.

Die man wou glo nie vir haar geld gee nie en het vir die vrou gesê hy wil toesig oor die kind hê.

“Daar word beweer die man het vir die klaagster gesê sy moet in die motor klim sodat hulle na die polisie kan gaan om ’n verklaring af te lê dat hy die baba (by haar) wil vat.

“Die vrou het saam met hom gegaan en hy het na Sasolburg naby Koppiesweg gery. Omstreeks 20:30 het hy uit die motor geklim, ’n knopkierie en vuurwapen uitgehaal en vir die klaagster gesê hy gaan hulle albei doodmaak.”

Die man het die vrou en die baba toe met die knopkierie op die kop en lyf geslaan, het Livhuhani gesê.

“Hy het ook twee keer na die motor geskiet voor hy weggery en die ma en kind daar gelos het.

“Die klaagster het met die baba in haar arms na die hoofpad geloop tot sy gesien het die baba het ophou asemhaal.”

’n Verbyganger het op die vrou afgekom en die polisie gebel.

“Die polisie het die verdagte gesoek tot hulle afgekom het op ’n man wat aan ’n boom hang nie ver van die toneel af nie,” het Livhuhani gesê.

Die man is nog nie amptelik geïdentifiseer nie, maar Livhuhani het bevestig die verdagte se motor was naby die lyk geparkeer.

Bron: News24