’n Man van Kaapstad het ’n petisie ingedien by die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Thandi Modise, wat vra dat werkende mans 10 dae vaderskapsverlof moet kry, het The Star Maandag berig.

Die finansiële bestuurder Hendri Terblanche (38) van Brackenfell het die petisie op 3 Julie ingedien, en het elke parlementslid genader om hulle te vra om ’n wetsontwerp vir oorweging van die nasionale vergadering op te stel.

Hendri se vrou, Giselle, het in November die lewe aan ’n tweeling, Danté en Juandré, geskenk. Hulle is drie maande te vroeg gebore. Een het 139 dae in die hospitaal deurgebring en die ander 79, vergeleke met die drie dae wat babas gewoonlik moet bly.

Ma’s wat ’n keisersnee ondergaan, kan tot ’n week in die hospitaal bly.

Volgens Hendri is die drie dae gesinsverantwoordelikheidsverlof nie genoeg in die geval van ’n keisersnee-bevalling nie; ook nie vir ouers wie se baba vroeggebore of siek is nie, en ook nie vir enige ander noodgevalle nie.

“Almal sê baie maklik pa’s is nie betrokke genoeg in hul kinders se lewe nie, maar met net drie dae betaalde gesinsverantwoordelikheidsverlof, het hulle van die begin af ’n agterstand.”

Die wet moet verander sodat pa’s meer betrokke moet wees.

- Sapa