Die verdagte, wat aangekla word van die moord op Isabella Kruger (77) het glo ’n gat onderdeur die veiligheidskompleks se heining gegrawe om in te kom.

“Kraaibosch het sedert Saterdagaand ekstra veiligheidswagte wat patrolleer. Daar is bykomende elektriese drade aangebring in die gebied waar die verdagte onder die heining deur gegrawe het en Kraaibosch is besig om met veiligheidspesialiste te onderhandel oor die onmiddellike opgradering van toegangsbeheer,” het Danie Schmidt, bestuurder van die landgoed, aan Huisgenoot gesê.

“Jonathan Claasen (31), wat in polisieaanhouding is en erken het dat hy by die moord betrokke was, beweer dat hy onder die elektriese heining deurgegrawe het en die gat weer agter hom toegemaak het. Hy was ’n permanente werknemer van ’n tuindiensteonderneming wat verskeie estates bedien, en het elke week in Kraaibosch Village ook tuine gedoen,” het Danie gesê.

Isabel was nog in haar slaapklere toe sy Saterdag dood in die bad by haar huis in Kraaibosch aangetref is. Haar dogter het omstreeks 12:00 op haar lyk afgekom, het Huisgenoot vroeër berig.

Volgens Danie het Jonathan Isabella se voordeursleutel en ’n afstandbeheer wat die motorhuis oopmaak, by hom gehad toe die polisie hom in hegtenis neem.

“Dieselfde afstandbeheer kan ook die veiligheidshekke oop- en toemaak om toegang tot die landgoed te verkry. Dit is in hierdie stadium onduidelik presies hoe laat hy onder die heining deur toegang verkry het.”

Volgens Danie het die landgoed se bestuur ’n spoorsnyer gevra om vas te stel waar Jonathan die gat gegrawe het om in te kom.

“Wat wel ’n feit is, is dat Mev. Kruger nog seweuur (Vrydagaand) by die verswaktesorgeenheid was waar haar man ’n inwoner is. Jonathan het net ná agtuur Saterdagoggend met haar blou (Honda) Jazz agter ’n ander voertuig by die hek uitgery,” het Danie verduidelik.

Danie sê dit is nie duidelik of Jonathan die afstandbeheer gebruik het om die landgoed se hek oop te maak of net baie na aan die voertuig voor hom gery het en toe saam met dié motor by die hek uit is nie.

Danie het ook gesê die landgoedbestuur wil graag hul meegevoel met Isabella se familie en vriende betuig.

“Ons is baie trots op die flink speurwerk van ons plaaslike polisie, wat binne vyf ure ná die ondersoek se begin reeds ’n verdagte in aanhouding geplaas het.”

Jonathan het dié week in die George-landdroshof verskyn. Hy het sy borgtogaansoek Woensdag teruggetrek en sal na verwagting weer op 5 Mei in die hof verskyn.

Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het gesê alle moontlikhede word ondersoek hoewel hulle nog nie met sekerheid kan sê Jonathan het onder die heining deur geklim nie.

“Ons kan wel bevestig dat die verdagte rondom agtuur se kant kort op ’n ander motor se hakke by die hek uit is.”