Joseph Castellanos van Utah in Amerika was na bewering kwaad omdat sy meisie hom nie by die werk wou besoek nie en te lank geneem het om op sy Facebook-boodskappe te reageer.

Die 31-jarige man het sy meisie tydens ’n woedeuitbarsting aangerand. Hy het haar ’n vuishou gegee, geskop en etlike ure lank teen haar sin aangehou. Hy het ook op haar hond getrap toe die dier onder die tafel probeer wegkruip.

Luidens die polisieverslag het hy toe warm sous oor die vrou gegiet en haar in die oond probeer dwing. Dis nie duidelik of hy dit aangeskakel het nie.

Gelukkig kon sy wegkom en na ’n badkamer vlug van waar sy die noodnommer 911 gebel het.

“Hy het my probeer vermoor,” het sy aan ’n operateur gesê.

Joseph is daarna in hegtenis geneem. Hy word deur 15 aanklagte in die gesig gestaar, waaronder ontvoering met verswarende omstandighede, seksuele aanranding met verswarende omstandighede, gewelddadige sodomie, en wreedheid met verswarende omstandighede teenoor diere.

Bronne: nydailynews.com, metro.co.uk, news.yahoo.com