Die perd, wat ’n waentjie getrek het, het verskeie beserings, waaronder oop sere onder sy voorbene, wat met die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se aankoms kwaai gebloei het.

Reinet Meyer, senior inspekteur van die Bloemfontein DBV, sê die perd se eienaar het die dier geslaan toe hy nie meer wou loop nie.

Die DBV het bewus geraak van die perd wat ’n waentjie met kinders en volwassenes 20 km ver van ’n plaas buite Dealesville moes trek. Met die terugkeer na die plaas kon die perd bloot nie verder nie en het hy inmekaargesak.

’n Besorgde mens het die DBV gekontak nadat die perd twee dae op een plek gelê het. “Die perd was doodmoeg en baie erg ontwater,” sê Reinet.

Lees ook: 80 honde en katte van kant gemaak nadat DBV se hokruimte opraak

Die eienaar van die perd het met die DBV se aankoms erken hy het sedert die perd van uitputting inmekaargesak het, hom geen water gegee nie. Boonop was daar ’n swaar ketting om die perd se voorbeen.

Die dier moes die waentjie met die ketting om sy poot trek, wat verskeie wonde veroorsaak het. Die oop sere is veroorsaak deur die waaierband waarmee die eienaar die perd geslaan het toe hy nie meer wou loop nie.

Die DBV het beslag gelê op die dier en ’n klag van dieremishandeling teen die eienaar geopen.

Die 26-jarige man is Dinsdag in die landdroshof op Dealesville skuldig bevind aan dieremishandeling, voor hy gevonnis is. Landdros M. Ntloko het gesê hy is skuldig aan ’n baie ernstige oortreding.

“Die perd is met ’n waaierband geslaan terwyl hy met ’n ketting vasgemaak was. Hy kon homself nie verdedig of uit die omstandighede verwyder nie en was weerloos.”

Ntloko het duidelik gesê die perd sou gevrek het as die DBV nie tot die dier se redding gekom het nie.

Hy het die belangrikheid van die gemeenskap uitgewys om dieremishandeling aan die beamptes van die DBV te rapporteer sodat die skuldiges aan die pen kan ry.