Die video van ’n noodlottige kroeggeveg het die ronde in sosiale media gedoen nadat Ludi Vink (30) se lewensondersteuningsmasjien gisteroggend om nege-uur afgeskakel is.

[caption id="attachment_160768" align="alignnone" width="600"]Ludi Vink. Ludi Vink. [/caption]

Ludi was Dinsdagaand (21 Februarie) by ’n watergat, Mitzy’s Biker Pub in Randhart, Alberton, toe daar skuins voor elfuur skielik ’n bakleiery uitbreek. Beeldmateriaal wys hoe Ludi na die geveg gaan, vermoedelik om dit op te breek, voordat hy deur twee onbekende mans aangeval is.

Daarna vat een van die onbekende aanvallers ’n snoekerstok en slaan die slagoffer in sy gesig. Die stok breek en ’n stuk steek in Ludi se gesig vas voordat die tweede aanvaller dit uittrek. Hy bly lê en die aanvallers verdwyn skielik.

Ludi is ná die insident hospitaal toe gejaag, waar hy later breindood verklaar is. Hy is op ’n lewensondersteuningsmasjien geplaas wat gisteroggend (23 Februarie) afgeskakel is en al sy organe word geskenk.

“Ek kan regtig nie hieroor praat nie...ek was eers 1uur by die hospitaal weg,” het sy gebroke ma, Danlee Vink, gister aan Huisgenoot gesê voordat sy weer stil geraak het. Sy was heeldag langs sy hospitaalbed en het nie die krag om daaraan te dink nie.

Danlee, ’n bekende haarkapper op Alberton, en het die hartseer nuus Woensdag op Facebook gedeel.

“My hart is uitgeruk, my siel pyn. My liefling, pragtige, goedgesind seun, Ludi Vink. Dit is so doelloos en barbaars hoe jy van my afgeneem is. Vandag om 9uur groet ons jou. Elke deel van my is in pyn...”

Sy suster, Karla, het hierdie video van hom op Facebook gedeel.

Ludi se verloofde, Clare Boadle van Australië, het hom ook gister finaal gegroet by die Wits Donald Mediese Sentrum in Johannesburg, waar hy ’n operasie ondergaan het om al sy organe te verwyder om te skenk.

Haar Facebook-inskrywing lui: “Vandag groet ek die liefde van my lewe, my beste vriend en siels-maat. Ek is dankbaar dat ek hom een laaste keer kon vashou en soen. Nadat hy breindood verklaar is, was hy op lewensondersteuning gehou sodat al sy organe geskenk kan word. Die eerste orgaan is reeds op pad na ’n pasiënt in Kaapstad. Ek weet nie hoe ek sonder hom sal aangaan nie, ek is lief vir jou Ludi en joune verewig.”

Dean Patterson, ’n kollega van Danlee, vertel aan Huisgenoot hoe geskok hulle by die werk oor Ludi se sterfte.

“Dit is absoluut skokkend. Ons kan dit nou nog nie glo nie, ons harte breek vir haar.”

Die man wat verdink word van die aanval, het om vanoggend vrywillig aan speurders by die Albertonse polisiekantoor oorgegee, in die teenwoordigheid van sy prokureur.

Hy word aangekla van moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy kan vandag moontlik in die hof verskyn om aansoek om borgtog te doen. Indien nie, sal hy in die polisieselle in aanhouding bly tot tyd en wyl daar ’n verhoordatum vasgestel is.

Kaptein De Fillet van die Albertonse speurafdeling sê hulle sal borgtog teenstaan en meer arrestasies kan volg.

Kyk hier na die video van die voorval. Weet egter dit kan baie ontstellend wees: