Die botsing het op die R21 naby die Benoni-afrit gebeur. 

Paramedici, lede van die brandweer en Sanral-nooddienste is omstreeks 03:00 Saterdagoggend na die toneel ontbied waar hulle die voertuig amper heeltemal onder die agterkant van die vragmotor gevind het. 

Volgens ER24 kon paramedici skaars toegang tot die man kry.

Hulle het hom egter behandel totdat hy van die wrak verwyder kon word.

Toe hy eindelik van die wrak verwyder is, het paramedici hom na die Tembisa-hospitaal geneem.

Volgens ER24 het dit byna drie uur geneem om die man van die wrak te verwyder.

Die presiese omstandighede rondom die ongeluk is nog nie bekend nie.