Armando, wat as 'n joviale, hoflike 16-jarige tiener deur kennisse beskryf word, het glo een keer vantevore van sy ouerhuis weggeloop. Toe verdwyn hy egter soos mis voor die son. Tot waar die polisie hom in Oktober 2016, 20 jaar na sy verdwyining, in 'n kelder in sy ouerhuis gevind het. Luidens berigte was hy aan 'n bed, wat terloops buiten 'n houtbankie die enigste meubelstuk in die vertrek sonder vensters was, vasgeketting. Daar was wel 'n toilet en 'n wasbak, maar beide is absoluut smerig.

Dit was bloot toevallig dat Armando deur die polisie gevind is. Hulle was besig om 'n dwelmklopjag in die buurt uit te oefen toe hulle die skokkende vonds gemaak het.
Voor hulle was 'n man, uitgeteer met 'n baard wat glo tot by sy maag gehang het. Hy self was vuil en volgens ooggetuies was sy vinger- en toonnaels gruwelik lank. Volgens die polisiehoof, Chelso Marchiori, het Armando nie 'n woord gepraat toe hulle hom gevind het nie. Hy was ook gedisoriënteerd toe hulle hom na buite neem. In daardie stadium was dit nie duidelik of Armando dalk onder die invloed van dwelms of net absoluut verskrik was nie.

Volgens berigte in die plaaslike media het bure gesê dat Armando as tiener gereeld deur sy stiefma in die openbaar geslaan is.

Een van sy maats van sy kinderdae, Ederson Silva, het glo gesê dat sy familie deurentyd volgehou het dat hy elders was.

"Elke keer as ons oor hom uitgevra het, het hulle dieselfde ding gesê: Nee, hy bly nou in die noord-ooste, hy werk, hy's gesond, hy's besig om sy familie te vestig. Dis wat hulle ons almal vertel het."

Armando se pa het natuurlik sy eie weergawe rondom sy aanhouding aan die polisie verskaf. Volgens hom het Armando, nadat hy op 16-jarige ouderdom weggevlug het, die vorige week eers weer na sy ouerhuis teruggekeer.

Hy sou glo sy familie versoek het om hom in die kelder te hou omdat hy 'n dwelmslaaf is. 'n Getraumatiseerde Armando is nou in 'n psigiatriese hospitaal opgeneem waar hy aan toetse onderwerp sal word. Sover bekend het hy nog steeds nie 'n woord gerep nie.

Die pa en sy stiefma het glo voet in wind geslaan en word deur die polisie gesoek op aanklag van vals aanhouding. Die mure van die huis waarin Armando aangehou was, is vol graffiti die soeke na geregtigheid vir Armando uitbasuin.

Bronne: au.news.yahoo.com, bbc.co.uk, huffingtonpost.co.uk