Vir baie mense is Engelse sout (epsom- of bittersout) ’n noodsaaklikheid in hul huishoudelike medisynekassie. Dit kan vir baie kwale aangewend word.

Om die waarheid te sê, die gebruik van hierdie middel is dekades lank voorgeskryf as boereraat, waarvolgens dit onder meer hardlywigheid kan bekamp.

In ’n anonieme brief aan Huisgenoot vertel ’n leser haar 35-jarige seun drink elke dag tot agt lepels Engelse sout in ’n wateroplossing.

Hiermee saam neem hy elke dag dieselfde hoeveelheid lakseermiddels in.

Hy glo dis al wat sy spysverteringstelsel aan die werk hou.

Dit kan mos nie gesond wees nie? wil die leser weet.

Beslis nie, blyk dit nadat ons by ’n kenner gaan kers opsteek het.

’n Mens behoort nie Engelse sout vir hardlywigheid te drink nie, sê Sonelle van der Linde, voorsitter van die Vrystaat-tak van die Vereniging van Dieetkundiges in Suid-Afrika.

“Dit is baie belangrik om hardlywigheid met die regte eetgewoontes te behandel: deur ekstra vesel te eet en genoeg water te drink,” is haar advies.

“Die gebruik van lakseermiddels is baie gevaarlik omdat dit ‘verslawend’ is. Mense wat dit gereeld gebruik, kan later nie meer daarsonder klaarkom nie. Die senu-impulse wat dermwerking beheer, word beskadig en werk later nie meer nie,” verduidelik sy.

Sonnelle sê die liggaam funksioneer op ’n baie spesiale manier en streef altyd daarna om ’n balans te handhaaf.

“As ’n mens so ’n groot dosis sout drink, word meer water in die derm ingetrek om die konsentrasie sout eweredig deur die lyf te versprei. Dit lei tot waterige stoelgang. Dit verlig hardlywigheid, maar veroorsaak ook diarree.”

Sy sê benewens die skadelike uitwerking op die derms, kan jy die liggaam se suur-basis-balans versteur en selfs ontwater.