Dan Janssen (38) woon in Maryland. Hy eet al 25 jaar net pizza.

In ’n onderhoud met VICE verduidelik hy waarom:

Dié vegetariese skrynwerker skryf sy voorliefde vir pizza toe aan ’n paar traumatiese ervarings in sy kinderjare.

Toe hy omtrent vier jaar oud was, het sy kleuterskooljuffrou hom elke dag Brunswick-bredie probeer voer. Dit bestaan uit hoender-, vark- of haasvleis saam met beesvleis en okra, botterbone, mielie, aartappel en tamatie. Dan wou nie sy mond daaraan sit nie. As straf het sy juffrou hom in ’n kas gegooi, waar hy gehuil en geskree het tot sy ma hom ’n paar uur later gaan haal het.

“Op vyf was ek en my suster in ons agterplaas,” vertel hy. “Sy het my per ongeluk giftige sampioene gevoer en ek is hospitaal toe.” Hy het herstel, maar die nare ervaring het sy eetgewoontes ’n knou gegee.

Dan het op omtrent 16 om etiese redes ’n vegetariër geword. “Ek hou van die smaak van vleis, maar het dit weens godsdienstige redes ophou eet,” vertel hy.

Dan hou ook nie van groente nie. Prakties gesproke het sy liefde vir pizza dus sin. “Ek eet al 25 jaar elke dag net pizza, en ek praat nie van net ’n snytjie pizza nie.” Dan eet ’n hele pizza van 35 cm op ’n slag.

“Ek eet net pizza met kaas. Ek raak nooit moeg daarvoor nie. Pizza van verskillende winkels of handelsname proe soos verskillende maaltye.”

Dan, wat aan diabetes ly, sukkel met lae bloedsuiker. Dit het hom al flou laat val op sy kombuisvloer en veroorsaak dat hy sy nuwe motor in ’n ongeluk afgeskryf het.

Hy kry sielkundige berading sodat hy die oorsaak kan vasstel vir sy beperkte dieet.

Tog lyk dit asof sy pizza-dieet nogal voordelig is. “Ek is maer. Ek het tonne energie en voel elke dag goed.’’

Dan is nie die eerste mens wat net een soort kos eet nie. Debbie Taylor van Brittanje eet al 10 jaar elke dag net twee groot pakke biefgeur-skyfies. ’n Vrou van die Isle of Wight leef al 13 jaar uitsluitlik van kitsnoedels.

Hierdie mense ly aan ’n toestand waaroor nog min navorsing is: selektiewe etery. Die Clinical Child Psychology and Psychiatry Journal beskryf dit as die verskynsel dat ’n beperkte verskeidenheid kos ingeneem word. Lyers hieraan wil ook nie nuwe soorte kos probeer eet nie. Selektiewe etery is algemeen onder kleuters en kan aanhou tot in die kinderjare en adolessensie. Dit kan dan sosiale probleme, angstigheid en konflik veroorsaak.

Bronne: vice.com; mirror.co.uk; nydailynews.com, sagepub.com