Die verlies van sy been was reeds ’n uitdaging om te bowe te kom. Toe besluit Reuben van Niekerk van Centurion boonop hy gaan die Absa Cape Epic in die Wes-Kaap aandurf as deel van sy helingspad.

En sowaar! Hy word toe die eerste mense wat ’n onderste ledemaat verloor het, wat die uitdagende bergfietsren kon voltooi. Dit strek oor sowat 700 km se berge en dale en duur agt dae.

Sedert 2013 het Reuben (33) die tog vyf keer aangepak en drie keer voltooi. “Hopelik is dié jaar die vierde keer,” vertel hy van vanjaar se Cape Epic, wat tussen 19 en 26 Maart plaasvind.

reubentwee

Die roete verskil elke jaar sodat deelnemers telkens nuwe dorpe besoek. “Dis wat dit so opwindend vir my maak," vertel Reuben voeg by dit word baie goed georganiseer.

Hy sê sy deelname inspireer die ander deelnemers. “As ek dit kan doen, het hulle niks om oor te kla nie.”

Hy het sy regterbeen in 2008 in ’n motorongeluk op die N1 tussen die Rivonia- en William Nicol-afrit verloor. ’n Vragmotor, wat in die teenoorgestelde rigting op pad was, se stuurwiel het onklaar geraak waarna dit oor die middelmannetjie in Reuben se motorfiets vasgejaag het. Sy regterbeen is afgeruk, sy bobeen gebreek en ’n paar ribbe gekraak.

Hy onthou die slag, maar nie die rit in die ambulans hospitaal toe nie.

“Ek was ’n jaar op krukke,” vertel hy. Stadig maar seker het hy met sy prostese weer leer fietsry.

“Ek wou iets normaals saam met my vriende doen om na normaliteit terug te keer,” verduidelik Rueben, wat in die uitgewersbedryf werk.

Hy neem vanjaar aan die Absa Cape Epic deel om bewusmaking op te skerp oor Jumping Kids, ’n stigting wat hom na aan die hart lê.

Johan Snyder het dit in 2009 begin met die droom om die nuutste kunsledematetegnologie, soos dié waarmee Reuben die Epic aflê, aan behoeftige kinders beskikbaar te stel en ook met hul rehabilitasie te help; daarom het hy die Jumping Kids-prostesefonds begin.

Reuben is byna elke dag van die jaar op sy fiets om te oefen, behalwe ’n kort rukkie in die winter. Hy ry steeds met ’n Vespa, maar fokus sy passie op bergfietsry. Daarom is dit sy strewe om kinders met kunsledemate se drome te help bewaarheid.

Vir nog inligting gaan na www.jumpingkids.org.za.