’n Jong man in die Amerikaanse deelstaat Texas het drie dae in aanhouding deurgebring nadat polisie sand uit ’n kat se sandboks vir dwelms aangesien het.

Metro berig Ross Lebeau (24) se voertuig is deur polisie deursoek toe hulle die kous vol sand kry en dit vir metamfetamien aansien.

“Hulle het gedink dit is hul vonds van die jaar,” het Ross aan ABC Eyewitness News gesê.

Ross het verduidelik die sand is in sy kar om te keer dat die vensters toewasem.

Nog vreemder is die uitslag van die eerste stel laboratoriumtoetse, wat bevind het dit is wél metamfetamien. Eers ná meer omvattende toetse het die polisie hul fout agtergekom.

“Ek verwag steeds ’n verskoning,” het Ross aan ABC gesê oor sy onregmatige inhegtenisname.

Luidens ’n verklaring wat die polisie uitgereik het, het die offisiere aan standaardprotokol voldoen.