Die Amerikaner wat die afgelope 40 jaar al vyf keer die einde van die wêreld voorspel het, is oorlede in die ouderdom van 92.

Volgens nytimes.com het die interkerklike Christelike prediker Harold Camping geval en Sondag aan sy beserings beswyk.

Harold het die oë laat rek toe hy voorspel het die wêreld sal op 21 Mei 2011 eindig. Die datum, het hy gesê, is vasgestel deur ’n Bybelse formule, wat verband hou met die sondvloed wat Noag in 4 999 v.C. oorleef het.

Hy was so oortuig van sy bevinding dat hy die datum twee jaar lank op sy radioprogram geadverteer het en miljoene dollar bestee het aan meer as 5 000 reklameborde; hy het ook pamflette in 75 tale laat vertaal.

Ná ’n mediastorm, waartydens mense voor die groot dag selfdood gepleeg het, het die son toe wel op 22 Mei 2011 opgekom. Harold se verduideliking was dat die Here “stilletjies” die oordeelsdag afgehandel het en dat die wêreld vyf maande later op 21 Oktober 2011 sou eindig . . . maar dié voorspelling het ook nie ’n werklikheid geword nie.

In Maart 2012 het hy erken hy het nie regtig ná 21 Mei 2011 bewyse gehad wat op ’n tweede datum dui nie; hy het wel gesê die kaskenades het darem die wêreld se aandag op die Here gevestig.

Sy 2011-voorspellings was nie sy eerste nie: Hy het sedert die 70’s voorspel die wêreld sal op 21 Mei 1988, in September 1994 en einde 2008 eindig.

Huffingtonpost.com berig hy word oorleef deur sy vrou, Shirley (71).

– Christiaan Boonzaier