Sal jy byna R18 miljoen opdok vir ’n foto? En nie sommer enige foto nie…’n Foto van ’n Ierse aartappel.

Die gerekende fotograaf Kevin Abosch (46) het onlangs bevestig sy foto van ’n organiese Ierse aartappel, afgeneem teen ’n swart agtergrond, is vir die uitspattige bedrag van €1 miljoen verkoop aan ’n onbekende Europese sakeman.

Lees ook: Die internet gons oor driejarige se weergawe van The Little Mermaid

Kevin het al profielfoto’s van bekendes soos Steven Spielberg en Malala Yousafzai geneem. Hy vra ’n gemiddelde prys van minstens R4,6 miljoen (£200,000) per fotosessie.

Van dié peperduur aartappel het Kevin ’n stel van drie foto’s geneem. Een daarvan is in sy privaat versameling, die tweede is geskenk aan ’n kunsmuseum in Serwië en die laaste een is aan die onbekende sakeman verkoop.

Die man het glo die foto op Kevin se muur gesien, en ná ’n paar glase wyn besluit hy wil dit koop.

“Ons het twee weke later ’n prys beding,” het Kevin aan Sunday Times vertel.

“Dit die meeste wat ek nóg vir ’n foto betaal is waarvoor ek nie vooraf die opdrag ontvang het nie.”

Lees ook: Bloedjonk en stinkryk: So maak dié jonges hul miljoene

Nou word daar gegons oor waar hierdie besonderse aartappel, net bekend as #345, is. Kevin het bevestig hy het g’n idee nie, want hy het glo te veel aartappels daardie dag afgeneem.

Dit laat mens wonder: was hierdie aartappel regtig die sous werd?

Bronne: The Telegraph; Sydney Morning Herald