Durban. – “Hy het agter die huis verdwyn en al wat ek kon sien, was vlamme . . . toe is daar ’n ontploffing en almal het uitgehardloop, behalwe Ivan.”

So het Melanie Spoors aan News24 vertel ná haar verloofde, Ivan van der Walt, se nagmerrie-ondervinding. Hy het oor hul muur gespring om ’n brand te help blus wat hul bure se huis in Sarnia in KwaZulu-Natal bedreig het.

Ivan se pogings om die brand met ’n tuinslang te blus, was vergeefs. Hy het toe ’n emmer gegryp wat hy gedink het vol water is en dit op die vlamme gegooi.

Ongelukkig was dit ’n chemiese middel wat in ’n vlammehel ontplof en Ivan getref het. Hy het kopgehou en in ’n swembad gespring.

Melanie sê Ivan het eerstegraadse brandwonde oor sy hele liggaam opgedoen en verkeer in baie pyn, maar is “oukei”.

“Ek was aan die ander kant van die muur, dus is ek nie heeltemal seker wat gebeur het nie. Ons het gesien die bure se huis is aan die brand. Ivan het oor die muur gespring en na die kant van die huis gegaan waar die kombuis is.

“. Daar was ’n ontploffing en dit het hom getref.

“Die ontploffing het glo iets aan die vlamme gedoen wat gekeer het dat die brand deur die huis versprei.”

Bron: News24