’n Britse man wat blind en geskend is nadat ’n vreemdeling suur in sy gesig gegooi het, voel vere vir sy aanvaller se verskoning.

“Ons het verby mekaar in die hof geloop. Hy het na sy hart beduie en gesê: ‘Ek is jammer.’ Om eerlik te wees het dit op dowe ore geval. Ons het bloot verby mekaar geloop. Dit (sy verskoning) het geen verskil gemaak het,” het ’n erg geskende Andreas Christopheros oor sy “ontmoeting” met sy aanvaller, David Phillips, op die TV-program This Morning gesê.

Andreas se lewe het onherroeplik verander toe hy op 9 Desember 2014 die voordeur oopmaak van sy huis in Cornwall, Engeland, en David batterysuur in sy gesig gooi terwyl hy sê: “Dis vir jou, maat.”

Lees ook: Dapper twaalfjarige breek ruggraat om pel van wegholmotor te beskerm

David het sowat 485 km van sy huis in Hastings, Oos-Sussex, af gery om wraak te neem. Die 49-jarige David het geglo Andreas het iemand na aan hom seksueel aangerand, maar het die verkeerde adres en persoon gehad.

Volgens Andreas het die aanval in ’n oogwink gebeur. “Die pyn was ondraaglik. Ek het nog nooit so iets ervaar nie.”

Andreas se gesig het onherkenbaar gebrand en hy het vertel hoe sy hele lewe ondersoek en elke liewe deel uitmekaargeskeur is terwyl die polisie hom ondersoek en eers later eindelik David se fout agtergekom het.

Hy was vier dae in ’n koma en het hospitaalpersoneel gevra om die spieëls te bedek sodat hy homself nie kon sien nie. Hy was omring deur vriende toe hy die eerste keer na sy geskende beeltenis kyk. “Ek het gedink as ek knak, kan ek dit net sowel tussen vriende doen. Dit was oukei. Dit is wat dit is.”

David is lewenslange tronkstraf opgelê, maar sal net die minimum tronkstraf van sewe jaar en 68 dae agter tralies deurbring vir aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Lees ook: Vrou neem eie lewe oor vrese dat haar kêrel gedwing gaan word om te trou

Andreas het die uitspraak en vonnis as ’n terugslag vir hom, sy vrou, Pia (33) en seun, Theo (2), beskryf. “Wat gebeur het, het gebeur. Niks sal dit ooit verander nie. Jy hanteer dit wat vir jou gegee is en gaan aan.

“Ek is 30 en het ’n jaar van my lewe verloor. Ek wil nie nog tyd verloor nie. Tyd is vir my kosbaar.”

Hy was eers onseker oor of hy sy seun langs sy hospitaalbed wou hê. Sou die kleintjie bang wees of hom nie herken nie?

“Gelukkig was hy wonderlik. Hy het na my gekyk en twee sekondes later sy arms uitgesteek en aan my geklou asof hy nooit weer gaan laat los nie. Dit was die wonderlikste gevoel ter wêreld.”

Andreas dra ’n silikoonmasker om sy gesig te beskerm en konsentreer nou daarop om sy ooglede te laat herstel.

“Ek gee nie om hoe ek lyk nie, maar alles moet net werk. Op die oomblik het ek probleme met my ooglede, neus en mond.”

Kyk hier na Andreas se volledige onderhoud op This Morning:

Bronne: Daily Mail; The Mirror

– Saamgestel deur Danél Blaauw