Hoe ver sal jy gaan om jou wederhelf ná 'n argument te vermy?

Wel, die strategie van Lawrence John Ripple van Kansas City, Amerika, was wel tydelik effektief, maar beslis nie een wat nagevolg moet word nie, ongeag hoe desperaat jy is.

Die 70-jarige het Vrydag 2 September die plaaslike bank, Bank of Labor, binnegeloop en heel bedaard 'n nota aan die kassiere oorhandig. Kort en kragtig het daar gestaan: "Ek het 'n vuurwapen, gee my jou kontant."

As dít die kassiere dalk onkant betrap het, sou Lawrence se volgende stap die wind geheel en al uit almal se seile haal.

Die bejaarde het met sy vrou baklei en daarna 'n bank van $2 924 (sowat R41 600) beroof en die tjoekie is sy voorland. Maar weghardloop van die misdaadtoneel was die allerlaaste gedagte wat hy gekoester het. Lawrence het soos 'n wafferse koel komkommer langs die bank se veiligheidswag gaan sit en 'n geselsie aangeknoop. Hy het self vir die wag gesê hy is "die ou na wie julle soek". Die desperate man het vir enigiets kans gesien – behalwe om na sy huis en hoogs ontstoke vrou terug te keer!

Die polisie en die FBI is ontbied en kort voor lank het Lawrence by sy nuwe "tuiste" aangekom: die tronk.

Hy het dit duidelik gestel dat hy en sy vrou baklei het en dat hy veel eerder agter tralies as tuis wou wees.

Maar selfs sy erkenning dat hy die dreigbrief in die teenwoordigheid van sy vrou geskryf het, kon Lawrence vir altyd toegesluit hou nie.

Die reg het op Woensdag, 7 September, ingegryp. Die regter het duidelik besef wat die bebaarde bankrower se ontsnapplan was - om sy huis vir die tronk te verruil, eerder as om soos die meeste ander misdadigers hul huis bo die tronk te verkies.

Die ongelukkige Lawrence is aangekla van die bankroof, maar op eie verantwoordelikheid vrygelaat.

Dit is onduidelik of hy hom tans in sy eie huis bevind of dalk aan 'n volgende bankroof beplan.

Bronne: washingtonpost.com, kansascity.com