mes

Volges die koerant Chronicle het Dumisani Siziba van Gwanda na bewering sy vrou, Pretty Moyo, se keel afgesny voor hy sy broer gebel het om vir hom te sê hy gaan sy eie lewe neem.

Die egpaar was glo besig om te skei.

Volgens die berig het die voorval plaasgevind nadat Pretty van haar ouers se huis af teruggekeer het om hul tweejarige kind en klere te gaan haal.

Dumisani het blykbaar aangebied om haar terug na haar ouerhuis te vergesel sodat hulle hul huweliksprobleme kon probeer uitstryk. Onderweg het hy haar na bewering vermoor voor hy sy eie lewe geneem het.

Die polisiewoordvoerder Philisane Ndebele het die voorval bevestig en bygevoeg Dumisani se familie het op die egpaar se lyke afgekom.

“Ons het ’n verslag ontvang van ’n moord en skielike hangdood. ’n Man het sy vrou vermoor deur haar keel af te sny voor hy ook sy eie lewe geneem het. Hy is Donderdagoggend gekry waar hy in ’n bos hang ’n paar meter van waar sy vermoorde vrou gelê het. Sy familie het op die lyke afgekom,” word Philisane aangehaal.

Dit kom minder as ’n maand nadat ’n 55-jarige man na bewering sy vrou met ’n stamper vermoor het nadat hy haar daarvan beskuldig het dat hy hom verkul het.

Die polisie sê die twee het “lank” huweliksprobleme gehad.

Bron: News 24