[caption id="attachment_126340" align="alignnone" width="600"]Onderskrif kom hier xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx . Foto: Corrie Hansen Lien Plaatjies se ondersteuningsnetwerk is van links Jacqueline Jacobs, Maria Matthys, Anesca Briessies en Anneline Geel. Foto: Corrie Hansen[/caption]

Dit is van die vrae waarmee ’n bedroefde Lien Plaatjies (36) worstel sedert haar “witbrood-kind”, Nigel (18), verlede Vrydag deur die polisie in hegtenis geneem is vir die dood op die geliefde skrywer Winnie Rust.

“Here, die ding maak my siek. Ek kan nie eet nie. Ek lewe net van water en koffie,” sê die hartseer Lien.

Sy werk al 11 jaar by Winnie se dogter, Winnie Nel, op Stellenbosch en het elke tweede Woensdag die woonstel op Winnie sr. se erf op die Bolandse dorpie Wellington skoongemaak. ’n Polisieman het daar gewoon.

Lees ook: Hoe Winnie Rust gesterf het kom uit in hof

“Ek wil vandag vir julle sê: Al sê die koerante wat, my kind sal nooit-ooit iemand doodmaak nie. Hy was nog die Maandag en die Dinsdag by Miss Winnie. Hy het die vorige week sy leerlingrybewys geskryf en Miss Winnie het gesê hy moet vir haar kom sê as hy geslaag het.”

Winnie het planne beraam om Nigel te help om vir bestuurslesse te gaan.

“Here tog,” sê die klein vroutjie en begin onbedaarlik ruk.

“Sy het hom gehelp om sy drome te bewaarheid. Hy wou inkom by die polisie en sy het hom elke keer gehelp om uit te vind wanneer die vorms ingevul moet word. Hy het nog Dinsdagaand vir my gesê: ‘Mammie, kan Mammie vir my ’n geldjie gee om vir Miss Winnie ’n kaartjie en ’n bos blomme te koop om dankie te sê?’ ”

Die verdriet ruk deur haar lyf en haar stem verdwyn.

Sy verduidelik dat Nigel – ’n belowende atleet wat verlede jaar by die Hoërskool Hugenote op Wellington gematrikuleer het – by die polisiekollege wou inkom en met sy atletiek aangaan.

Dis netjies in die klein huisie in Newton, ’n woonbuurt buite Wellington, waar Nigel saam met sy ma, sy suster, Anesca (12), en ander familievriende gewoon het. Die voëltjies in die koutjie langs die bank tjirp aanhoudend. Hulle is onbewus van die verslae vrou in die huis.

’n Bos medaljes hang oor die televisiekas; ’n teken dat daar met die jong man se prestasies gespog is.

[caption id="attachment_126341" align="alignnone" width="600"]Onderskrif hier xxxxxxxxxxxxxxxxxx. Foto: Corrie Hansen Nigel Plaatjies se talle medaljes wat hy op die atletiekbaan verower het. Foto: Corrie Hansen[/caption]

“Ag Here tog. Watter mens wat so gehelp word om sy droom waar te maak, sal iemand doodmaak?” Trane loop oor haar wange. “Hy het altyd gesê: ‘Mammie die Here is darem goed vir ons – om vir Miss Winnie op ons pad te stuur om ons te help.’ ”

Die gebeure

Winnie is verlede Woensdag deur haar man, dr. Manie Rust (87), in die kombuis van hul huis in die spogbuurt Uitsig gekry. Haar voete en hande was vasgebind en haar mond is met kleefband toegeplak.

Nigel is verlede Vrydag in hegtenis geneem en sy ma se neef, Johannes Plaatjies (34), is later ook aangekeer.

Hulle verskyn Dinsdag weer in die hof vir ’n borgtogaansoek.

[caption id="attachment_126349" align="alignnone" width="600"]Onderskrif hier xxxx. Foto: Corrie Hansen Foto's van herinnering op Winnie Rust se roudiens. Foto: Corrie Hansen[/caption]

Winnie is Donderdag met ’n roudiens in die NG Kerk Moedergemeente op Wellington gegroet.

“Sy was ’n engel,” sê ’n familielid wat nie haar naam genoem wou hê nie. “Sy was ’n goeie vrou wat ’n goeie lewe gelei, maar op ’n verkeerde manier gesterf het.

“Sy was voortdurend besig met dinge van die innerlike. Ek het gister ’n stuk op haar lessenaar gekry wat gepraat het van oorgawe. Hoe jy totaal moet oorgee, want dit is waarin verlossing lê. As sy hier was, sou sy vir ons almal gesê het ons moet ophou om ons met nonsens besig te hou.”

[caption id="attachment_126350" align="alignnone" width="600"]Onderskrif hier xxxx. Corrie Hansen Die NG Kerk Moedergemeente op Wellington waar Winnie Rust se roudiens was. Corrie Hansen[/caption]

Lien sê enkele dae voor die moord was Johannes by hulle in die huis en hy het vir Nigel met ’n vuurwapen gedreig. “Hy het vir hom gesê hy is desperaat. Die tik-mans is agter hom aan en Nigel is die een wat hom gaan help. Want as Nigel nie doen soos hy sê nie, gaan hy hom doodmaak en terugkom vir my en Nigel se suster.

“Ai, Here tog,” sug Lien en huil as sy hieraan dink.

Sy het Dinsdag by haar seun in die tronk gaan kuier en dit was vir haar bitter swaar om hom daar te sien.

“Hy sê vir my: ‘Mammie, kyk in my oë. Die waarheid lê in my oë.’ Hy sê vir my die mense wil hom nie glo nie. Hulle wil hê hy moet lieg. Hy sê hy kan nie lieg nie. Hy sê: ‘Mammie, Miss Winnie was soos ’n ma vir my.’ ”

[caption id="attachment_126351" align="alignnone" width="600"]Onderskrif hier xxxx. Foto: Corrie Hansen Lien Plaatjies is bewoë oor haar lieflingseun wat in hegtenis geneem is. Foto: Corrie Hansen[/caption]

Lien sê Nigel het gedreig om sy eie lewe te neem as hy in die tronk moet bly. “Dan weet hy hy is saam met Miss Winnie. Hy sê hy kan nie in daai plek nie. Hy kan nie. Dit is nie sy huis nie.”

Sy ruk onbedaarlik. “Weet jy, hy het altyd gesê: ‘Mammie, ek wil nooit tot daai plek behoort nie. Nooit nie. Hy sou in die deur staan en so na die jongmense kyk wat hier verby stap en dwelms gebruik. Dan sê hy hy kry hulle so jammer. Hulle weet nie waarmee hulle besig is nie. Ai, jinne mense. Daai kind van my kon nie eens ’n entjie reuk vat nie.”

Lien sê die Donderdag ná die moord was Nigel doodnormaal en het geen teken getoon van iemand wat ’n afskuwelike daad gepleeg het nie. “Hy was sy ou self. Soos hy altyd was. Hy was nog opgemaak met dié dat Miss Winnie gesê het sy gaan hom help met sy bestuurslesse. Hy het nog gesê: ‘Sjoe, Mammie, daai vrou gee regtig om vir my.’ ”

Hoekom dink sy sou Johannes vir Nigel by die saak betrek?

“Nigel het ’n manier gehad. Enige mens dink ek sal spog as iemand jou met jou toekoms help. Hy het daai brag-gees in hom gehad, omdat sy hom gehelp het. Die man. Ek dink hy was jaloers op my en my kind.”

Sy kyk af en begin weer saggies huil.

Winnie en Nigel ontmoet mekaar

Winnie en Nigel se paaie het gekruis toe hy nog op laerskool was en Lien by “klein Winnie” begin werk het. “Ek dink Nigel was sewe of agt jaar oud toe sy in ons lewe kom.

“Sy (Winnie sr.) het gereeld na Nigel se rapporte en atletiektoekennings gekyk. Hy het baie goed gevaar. Toe hy in st. 6 (gr. 8) kom, het sy gesê Nigel het haar hart gesteel en sy voel sy wil hom help.”

Lien sê Nigel het gereeld in die middae ná skool by Winnie gaan middagete eet. “Hy sou daar eet en dan gesels hulle oor sy skoolwerkies.”

Sy het hom soms ook by die huis kom aflaai. “Sy sou inkom en hier binne kom sit.” Sy wys na die bank. “Sy sou daar sit. Dan het sy vir Nigel gevra om ’n bietjie nader te sit. Sy wou net sy warmte hier langs haar voel.

“Sy sou my altyd bel en vra om Nigel te sien.”

Finansiële bystand

Winnie het destyds met Lien en Nigel gesels en hulle het saam besluit dat Hugenote die beste hoërskool vir hom is. “Sy het gesê sy voel ons moet vir hom ’n kans gee. Hy was baie gelukkig toe hy hoor hy gaan Hugenote toe.

“Sy het die eerste twee jaar betaal en ek die laaste drie jaar. Sy het vir hom met sy skoolklere gehelp, met alles – alles, alles, alles. Watter mens sal iemand gaan doodmaak wat so goed is vir jou?

“My kind is nie so nie. My kind wil nie eens na ’n lyk kyk nie.”

Hy het die eerste jaar gesukkel, maar elke jaar het dit net vir hom beter geraak, sê Lien. Winnie het hom aanvanklik met wiskunde gehelp, maar hy het vinnig by die res van sy klas opgevang.

“Hy het nie gesukkel nie. As hy nie verstaan het nie, het hy vir haar gevra om hom te help en die afgelope twee jaar het hy hier by die huis geleer. Hy sou in die middae by die huis kom, iets eet, so halfuur lê en dan begin leer. Ons mag nie eens die radio aangesit het nie.”

Deur die jare sou Winnie ook help wanneer Nigel atletiekbyeenkomste op ander plekke moes bywoon en sy het vir vliegkaartjies betaal. “Hy was oral; Bloemfontein en Johannesburg. Al die ver plekke. Hy sou nou weer op 1 Junie na ’n kamp toe gevlieg het. Ek dink sy het reeds vir die vliegkaartjies en alles betaal.”

Nigel is ’n langafstandatleet en het graag die 1 500 m en die 800 m gehardloop.

Lien sê sy weet nie of sy meer werk het nie en trek haar asem bewerig in. “Hulle het gevra dat ek eers nie moet kom nie. Ek mag ook nie na die begrafnis toe gegaan het nie.”

Lien en Winnie

Lien sê sy en Winnie was baie na aan mekaar. “Van dag een af het hulle lief geraak vir my en my kind. Sy was soos ’n ma vir my en my kinders. Sy sou nog vir ons ’n afdak hier by die huis laat bou het. Sy het my gehelp met die gebou waarin ons nou sit.” Sy wys na die struktuur wat hul huisie vergroot. “Ai, Miss Winnie het baie gedoen vir my en my kinders.”

Lien sê wanneer sy daar gaan werk het, het Winnie haar altyd kom groet. “Dit maak nie saak of sy nog in haar slaapklere was nie. Sy sou altyd kom vra hoe dit met die kinders gaan. Hoe gaan dit met my? Het ek iets nodig? Sy sou altyd, altyd help.”

Winnie het Lien nog die oggend voor haar dood gebel. “Sy het gesê alles is gereed vir die afdak wat sy vir ons wil kom opsit.

Sy wou so gou moontlik begin bou voor die erge reën kom en sy wou vir Nigel sien. Sy wou met hom praat oor sy bestuurslesse, want sy wou dit so gou moontlik reël.”

Daardie aand het die bure se kind vir haar kom vra of sy gehoor het Winnie is vermoor.

Lien se stem raak weg en sy kan die trane nie keer nie. Dis lank stil voor sy weer haar stem terugkry. “Toe ek Vrydag by die huis kom, het ek gehoor hulle het my kind kom haal.”

 ’n Goeie kind

Nigel was nog altyd ’n goeie kind, sê Lien. “Hy was nie ’n straatkind nie. Hy is ’n aantreklike kind en was altyd skoon en netjies.

“As hy hier by die huis was, was hy net binne die huis met sy musiek. Hy wou nie eens naby aan die hek gestaan het nie. Hy het uitgeblink met sy hardloop. Hy het baie ge-gym en hy het hard geoefen.

“Daai kind het gedroom om sy gemeenskap te help. Hy het gesien hier was te veel dwelms en moord en verkragtings. Hy het altyd gesê dit is te verskriklik.

“Watter kind met moord in sy gedagtes sal so iets sê? Iemand gaan doodmaak wat bereid was om hom te help met sy toekoms?”

Die afgelope drie jaar het Nigel vir die eerste keer ’n verhouding gevorm met sy pa, Dirk de Koker, wat in Montagu woon. “Hy het my gebel toe hy van die ding in die koerante lees. Hy sê dit is nie sy kind nie. Sy kind sal nooit in staat wees om so iets te doen nie.”

Lien sê dit voel vir haar of haar kind dood is. “Ek voel verskriklik hartseer oor Miss Winnie wat weg is,” sê sy en trane drup soos pêrels uit haar oë. “Ek gaan nooit weer so iemand kry nie. Maar ek is ook bitterlik hartseer oor my kind.”

Ander stories op Huisgenoot.com

‘My seun, die hamermoordenaar’: verslae ma maak hart oop

Pretorianer bestee derduisende aan regskostes om haar geliefde kat terug te kry

#HG100: Gelukwense met ons honderdste verjaardag stroom in!

EKSKLUSIEF! Karen Zoid se liedjie spesiaal vir Huisgenoot en vir jóú!

Geliefde Springbok se knapie sy ewebeeld in dierbare kiekies

Gateway to Space: Grootste uitstalling nóg in SA!