Liezel van der Westhuizen, maltrap-aanbieder van Expresso op SABC3, is in die hospitaal en besig om te oefen om met krukke te loop nadat sy die naweek van haar fiets afgeval het.

Liezel, ‘n toegewyde Ysterman-atleet, het Sondag die Cape Argus Pick ‘n Pay-fiestoer van 109 kilometer suksesvol voltooi – en toe tref die ongeluk haar oppad huistoe!

“Ek het 500 meter van die huis af geval,” vertel sy. “Ek is besig om te oefen vir ‘n Ysterman-byeenkoms so ek het die 15 kilometer na die begin van die Argus met my fiets gery. Toe doen ek die wedren in ‘n goeie tyd. En toe trap ek weer fiets huistoe. Wel, amper al die pad tot by die huis...”

Liezel is nou nog nie heeltemal seker hoe dit gebeur het nie, maar sy weet sy het hard met die aarde kennis gemaak.

“Gelukkig is niks gebreek nie en ek hoop ek gaan gou weer op die been wees. Dit is net slegte kneusings, skrape, knoppe en snye. En ek sukkel om te loop, so nou leer hulle my om die krukke te gebruik. Sodra ek dit onder die knie het, kan ek huis toe gaan. Ek hoop dis teen die einde van die week,” sê sy.

Sy sal nie hierdie week op haar pos in die Ezpresso-ateljee wees nie, maar ondanks die terugslag, is Liezel tevrede met haar vertoning by die Argus.

“Dit het eintlik baie goed gegaan. Ek het in 4 uur en 20 minute klaargemaak, so ek is heel gelukkig. Die wedren self was wonderlik, dis so ‘n pragtige roete,” sê sy.

“Ek is baie fiks danksy my werk vir die Ysterman-reeks, so ek was nie styf na die wedren nie. Ag, ek het wonderlik gevoel, tot ek geval het natuurlik.”

Daar is ‘n Ysterman-byeenkoms oor drie weke en sy hoop sy sal kan deelneem. “Maar ek sal natuurlik eers by die dokters moet hoor. Ek wil beslis nie my beserings vererger deur te vinnig myself te hard te druk nie.”