Die feit dat malaria-komplikasies twee mense van Pretoria se lewe geëis het, dui nie op ’n toename in die voorkoms van dié siekte nie.

So sê Nombuso Shabalala, woordvoerder van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes (Nios).

Twee mense wat in dieselfde straat in Doornpoort in die noorde van Pretoria gewoon het, het onlangs weens malaria gesterf.

Volgens Netwerk24 het Cheryl Pieterse (58) enkele dae voor haar dood, vermoedelik weens malaria, griep en ’n ligte infeksie gekry.

Jolynn Hocanin (33) het Sondagmiddag gesterf. Cheryl en Jolynn het volgens die nuuswebtuiste albei in Cassiatraat gewoon.

Nios sê in ’n verklaring nie een van die twee slagoffers het onlangs ’n malariagebied besoek nie. ’n Taakspan, saamgestel uit lede van ’n verwysingslaboratorium by Nios, distriksgesondheidsdienste, omgewingsgesondheid en oordraagbare-swamdoder-programme doen ’n ondersoek in die gebied.

“Die mense het waarskynlik malaria opgedoen nadat hulle gebyt is deur ’n anofelesmuskiet uit ’n malariagebied wat hier beland het deur middel van ’n voertuig, reistas of vliegtuig,” lui die verklaring.

Sulke gevalle is skaars, maar ’n paar gevalle van “ingevoerde” malaria kom wel jaarliks voor, veral tussen Januarie en April, maar dit dui nie op ’n toename in malaria in Suid-Afrika nie.

Dié siekte kan doeltreffend behandel word mits dit vroeg genoeg opgespoor word, maar dikwels word dit weens die niespesifieke simptome eers laat gediagnoseer. Wanneer iemand nie ’n malariagebied besoek het nie, word dit gewoonlik nie as die oorsaak van simptome oorweeg nie.

Weens onlangse swaar neerslae, warmer temperature en hoë humiditeit het meer malaria as gewoonlik voorgekom in Suid-Afrika se tradisionele malariagebiede: die noordooste van Limpopo en die Laeveld van Mpumalanga (wat Mbombela en die verre noordelike gebiede van KwaZulu-Natal uitsluit), asook in buurlande soos Mosambiek.

Inwoners van of besoekers aan malariagebiede wat byvoorbeeld akute koors of griepsimptome soos koors, hoofpyn, spierpyne, kouekoors en sweet ervaar, moet dringend bloedtoetse ondergaan.

Mense wat binne die volgende twee maande na sulke gebiede reis, moet voorsorgmaatreëls tref om muskietbyte te verminder. Voorkomende medikasie moet ook geneem word voor mense hoërisikogebiede besoek.