Of jy nou ’n ou hand is met Instagram of ’n groentjie, jy sal hierdie mense wil volg!

Glansmense

Volg hierdie bekendes om te kyk watter koel goed hulle aanvang.

Troian Bellisario (28) / @sleepinthegardn – Onder die glansmense op Instagram het dié kunssinnige meisie beslis een van die beste voere. Sy plaas hope prettige kiekies van haar saam met haar Pretty Little Liars-medesterre, asook oor haar stokperdjies.

Emma Roberts (23) / @emmaroberts – Van foto’s uit haar kleintyd tot oorskietpizza, dis duidelik Emma is maar net ’n gewone meisie.

Cody Simpson (17) / @codysimpson – Die Australiese sanger se selfies is witwarm – en wie het kon raai hy is kunstig daarby? Die meeste van sy foto’s het ’n koel, outydse gevoel.

Alli Simpson (16) / @allisimpson – Sy is nou wel Cody Simpson se jonger suster, maar op Instagram is sy uit eie reg bekend. As die mooi blondine nie selfies met ’n strandvoorkoms laai nie, plaas sy lawwe video’s waarop sy sing en dans.

Justin Bieber (20) / @justinbieber – Windmakerige foto’s van sy blinkgoed, selfies van sy nuwe haarstyl wat hy met ’n tydreëlaar geneem het en af en toe ’n kiekie van Selena Gomez – wat het jy verwag?

Zooey Deschanel (34) / @zooeydeschanel – Naelkuns en gebak: Die New Girl-ster se Instagram is oulik verby!

Chloë Moretz (17) / @cmoretz – Van haar stylvolle uitrustings tot haar gesinskiekies en reisfoto’s, lyk dit of Chloë altyd pret het.

Modesterre

Wil jy weet wat in die modewêreld aangaan? Dan moet jy hierdie modieuse mense volg.

Leandra Medine (26) / @manrepeller – Die Amerikaanse skrywer, modeblogger en modeleier deel stylinspirasie en haar glansryke lewenstyl in New York.

Ashley Madekwe (32) / @smashleybell – Die stylblogger en Revenge-aktrise se Instagram-voer is vol fantastiese klere-inspirasie uit haar persoonlike stylblog, Ring My Bell. En die kykies agter die skerms van Revenge se kostuumafdeling sal jou groen van jaloesie maak.

Hailee Steinfeld (17) / @haileesteinfeld – Die stylvolle aktrise se foto’s van haar huis en van die rooi tapyt sal vir jou Instagram-voer glans gee!

Lauren Conrad (28) / @laurenconrad – Haar Instagram is vol meisierige kiekies, soos mooi pienk rose, fyn juweliersware en plat skoene met strikkies.

Nader aan eie bodem

Wie het gesê local is nie lekker nie? Volg hierdie interessante mense vir inspirasie uit Afrika.

Behati Prinsloo (25) / @behatiiprinsloo – Die toekomstige mev. Adam Levine en Victoria’s Secret Angel deel prettige foto’s van haar modelvriendinne – en ook agter die skerms van Victoria’s Secret se fotosessies . . .

Craig Howes (30) / @craighowes – Hy is dalk die Suid-Afrikaner met die meeste volgelinge; hy spog met sewe rekeninge en meer as 112 000 volgers. Hy deel foto’s van wonderlike, buitengewone en unieke landskappe van die Moederstad. Gaan kyk ook na @cityofcapetown.

Carlinn Meyer / @superficialgirl –Die blogger en YouTube-vraat is gaande oor mode, skoonheid en lewenstyl in Suid-Afrika.

Poetsbakkers

Hier is ’n paar poetsbakkers wat ’n tikkie humor by jou voer sal voeg.

Anna Kendrick (28) / @annakendrick47 – Dis soos om ’n ou vriendin te volg wat toevallig beroemd is. Haar voer is ’n prettige verskeidenheid van malligheid op die stel, sarkastiese selfspot en kort video’s van die aktrise wat verras optree oor haar eie roem.

Kevin Hart (34) / @kevinhart4real – ’n Klein outjie met ’n groot persoonlikheid! Die akteur leef sy energieke humorsin uit deur foto’s van hom en sy vriende te plaas.

Chelsea Peretti (36) / @chelsanity – Sy ken van komedie en plaas snaakse foto’s van haar hond wat motor “bestuur”, skermgrepe van vreemde goed waarna sy toevallig op haar foon kyk en wonderlike foto’s van haar saam met haar medesterre in sitkoms.

Kosliefhebbers

As jy kos-inspirasie soek, moet jy hierdie mense volg:

Adam Goldberg / @alifewortheating – ’n Stralejakker se gids tot lekker eet. Sy voer wys maaltye van oral in die wêreld.

Carey Nershi / @careynotcarrie – Haar kiekies beeld die stil, rustige lewe op ’n plaas uit – kompleet met tuisgemaakte resepte.

Food Day / @food_day – Hulle deel wonderlike foto’s van geleenthede en aktiwiteite wat volhoubare voedsel en boerdery bevorder – van kos proe tot koeverte stop!

Jamie Oliver / @jamieoliver – Die TV-persoonlikheid en sjef is ’n ernstige kosfanatikus en deel wonderlike foto’s van al sy meesterstukke.

Word so ’n Instagram-ster

  • Wees ’n filtermeester. Gee jou foto’s ’n unieke gevoel van skoonheid deur ’n verskeidenheid filters te gebruik. Dit sal jou foto’s meer inspirerend, asemrowend en onvergeetlik maak.
  • Deel foto’s waarby mense kan byval vind. Neem foto’s wat uniek en menslik is en waarby mense aanklank kan vind. Met ander woorde, wees eg.
  • Gebruik die regte hutswoorde. Party hutswoorde is gewilder as ander, maar dit is belangrik om altyd gepastes te gebruik. Van die gewildste hutswoorde is #instagood, #instadaily, #picoftheday en #throwbackthursday.
  • Klik op die like en follow- knoppies. Jy ken die gesegde “behandel ander mense soos jy behandel wil word”? Dieselfde geld vir Instagram. As jy baie likes, kommentaar en volgelinge wil hê, moet jy dieselfde vir ander mense doen.
  • Deel jou agtergrond. Dit sal die ander gebruikers ’n idee gee van wie jy is. Onthou, wees kreatief en wys jou persoonlikheid.

- Janine Nel

Bronne: quicksprout.com, seventeen.com, teenvogue.com, buzzfeed.com, stylecaster.com, mashable.com