Jou eersteling is pas gebore en sy is pragtig. En nes enige ander ouer droom jy reeds van wat sy eendag gaan bereik; hoe sy gaan ontwikkel in ’n gelukkige, intelligente en suksesvolle jong volwassene met die wêreld aan haar voete.

Maar hoe moedig jy haar aan om dit te bereik? Hoe kan jy jou baba help om so slim as moontlik te word? Die eerste ding om te onthou, is dat slim en suksesvol wees nie net daarom draai om op ’n jong ouderdom te lees, moeilike somme baas te raak of goed te vaar in intelligensietoetse (IK) nie, sê kenners.

Dit gaan oor ’n algehele slimheid met ’n kombinasie van gesonde verstand en sosiale vaardighede en help jou baba om te ontwikkel in ’n goed gebalanseerde kind en selfversekerde, positiewe volwassene.

Die goeie nuus is dat jy hierdie vaardige vanaf geboorte vir jou kind kan begin aanleer. Navorsers het bevind die eerste drie jaar is uiters belangrik omdat ’n baba se brein dan op sy vinnigste ontwikkel.

Daar is twee maniere om jou baba se breinkrag vanaf hierdie jong ouderdom ’n hupstoot te gee:

  • Gee hulle baie liefde, glimlagte, drukkies en aanmoediging om hul geliefd en veilig te laat voel. Om jou kind lief te hê en te koester is uiters noodsaaklik vir die ontwikkeling van intelligensie, sê kenners.
  • Laat jou kind deelneem aan aktiwiteite wat die brein stimuleer, maar sorg dat dit pret is en dat dit nie te moeilik vir haar ouderdom is nie.

Verbeter breinkrag op elke ouderdom

Die pasgebore baba: geboorte tot 3 maande

Pasgebore babas kan meer doen as wat ons dink en jy kan dadelik dinge met hulle begin doen:

  • Skenk altyd aandag aan ’n huilende baba. ’n Gehuil is ’n baba se manier om vir jou te sê sy het jou nodig. As jy haar kalmeer, leer dit haar om jou te vertrou en te besef jy is daar vir haar – dis die eerste boublokke vir haar toekomstige selfbeeld en selfvertroue.
  • Op hierdie ouderdom is jy jou baba se belangrikste speelding! Laat haar vat aan jou gesig en hande, stel haar gerus met jou stem en sing gereeld vir haar. Praat met haar en gebruik gereeld haar naam om taalontwikkeling aan te moedig.
  • Hang ’n helderkleurige bewertjie vanaf die dak in haar kamer of bokant haar bed. Jy kan selfs jou eie maak deur kleurvolle vorms uit te knip en dit aan ’n klerehanger te hang.
  • Laat haar vat aan speelgoed met tekstuur (soos hout, plastiek en materiale). Babas leer deur hul sintuie en om die verskil tussen sag, grof en harde teksture te voel, help met breinontwikkeling.

Leer speel-speel: 3 tot 6 maande

  • Gaan voort met al die bogenoemde aktiwiteite.
  • Ontwikkel ’n daaglikse roetine. Dit sal die baba veilig laat voel en haar help om ’n selfversekerde kind te word.
  • Beweeg ’n ratel of bal stadig oor haar gesigveld.
  • Laat die baba op haar maag lê en sit ’n speelding buite haar bereik om haar aan te moedig om daarheen te beweeg – dit help met uiters belangrike spierontwikkeling.
  • Laat haar opsit teen kussings en moedig haar aan om te sit en met speelgoed te speel.
  • Lees en sing vir haar om taalontwikkeling aan te moedig. Dit maak nie saak as sy nie die woorde verstaan nie.

Regopsit en kruip: 6 tot 12 maande

  • Stel haar bekend aan eenvoudige speelgoed soos houtblokkies en speelgoed waarin hul vormpies moet pas. Ander goeie speelgoed vir hierdie ouderdom is: Sagte diere-speelgoed, ratels en goed wat ’n geluid maak, balle, bababoeke van plastiek of materiaal en ’n nie-breekbare spieël. (Jou baba sal dol wees daaroor om na haarself in die spieël te staar!)
  • Laat jou baba met ’n lepel op ’n omgekeerde pot slaan. As jy jou oë uitvee, is sy ’n bedrewe musikant!
  • Kyk saam na prente in boeke. Wys na voorwerpe in die prente en noem hul naam om baba se woordeskat te stimuleer.
  • Praat dikwels met jou baba, maar let daarop om nie te veel babataal te gebruik nie. Praat normaalweg en duidelik om haar taalontwikkeling te stimuleer. Beskryf selfs die mees alledaagse ding waarmee jy besig is, soos om die wasgoed op te hang.
  • Gaan stap met jou baba en wys na dinge wat jy langs die pad sien.
  • Speel kiekeboe. Babas is mal daaroor en dit help hulle verstaan jy is nog daar al kan hulle jou nie sien nie. Steek jou gesig weg, verskyn vinnig weer in jou baba se gesigveld en sê: “Kiekeboe, ek sien jou!”
  • Dans met jou baba om hul gevoel vir ritme te ontwikkel.
  • Speel handeklap-speletjies.
  • Bons jou baba op jou knie en laat haar op jou skoot klim terwyl jy haar hande vashou om spierontwikkeling te stimuleer.
  • Maak badtyd prettig en wys haar hoe om water in en uit plastiekhouers te gooi.
  • Onthou, dis ook goed om jou baba op haar eie vir ’n rukkie te laat speel – maak net seker sy is in ’n veilige omgewing. Babas leer op hul beste as hulle die wêreld om hulle verken.

Aan die gang: 12 tot 18 maande

  • Dis nou groot pret om in die sand te speel!
  • Moedig haar aan om eenvoudige legkaarte te probeer doen. Help haar as sy sukkel of gefrustreer raak, maar moenie te veel namens haar doen nie.
  • Maak jou eie speelklei. Meng 1 koppie meel, 1 koppie water,1 koppie sout en 1 eetlepel kremetart. Roer liggies oor lae hitte in ’n pot tot die deeg ’n balletjie vorm. Haal uit die pot en knie tot dit sag en soepel is. Bêre in plastiekhouer. Vir gekleurde speelklei kan jy ’n paar druppels koskleursel by die water voeg. Kinders geniet hul gate uit hiermee: Hulle rol dit uit, maak verskillende vormpies en sny vormpies met ’n koekiesnyer uit. Dit stimuleer kreatiwiteit en leer hul vingerbeheer, wat later belangrik is vir skryf.
  • Gee vir hul kryte en papier – kleuters is mal daaroor om te krabbel.
  • Raak konstruktief met boublokkies.
  • Besoek die dieretuin of ’n park en praat oor wat julle sien en hoor.
  • Jy kan nou vir jou kind kleure en sommige liggaamsdele se name leer.
  • Sê so gereeld as moontlik vir haar jy het haar lief en gee baie drukkies en soentjies.

Die onafhanklike gees: 18 tot 24 maande

  • Gaan voort met al die bogenoemde speletjies.
  • Leer jou kleinding oor netheid en hoe om goed weg te sit.
  • Sprei koerante op die vloer uit om ’n gemors te verhoed en laat haar met verf speel.
  • Moedig haar aan om huis-huis te speel en haar verbeelding te gebruik. Jy het net ’n teddiebeer of ’n speelgoed-teestel nodig.
  • ’n Kartonboks kan ’n huis, paleis, ’n motor wees . . . of drapeer ’n ou laken oor die tafel en maak asof julle albei in ’n tent is.
  • Dis baie belangrik om boeke te lees om haar taalvaardighede te ontwikkel.
  • Laat sy jou help om die tafel te dek.
  • Bou aan haar selfbeeld deur vir haar klein takies rondom die huis te gee soos om jou te help afstof en vee. Moenie inmeng as sy met iets sukkel nie. Laat haar dit self probeer doen – dis hoe sy probleemoplossing en onafhanklikheid aanleer.
  • Prys haar as sy iets regkry.
  • Dis nou tyd om ’n bal te leer skop, gooi en vang. Wees geduldig – jou baba sal beter raak hierin en dis baie belangrik vir haar spierontwikkeling.
  • Laat haar krale op ’n stukkie tou inryg.
  • Beperk tyd voor die kassie – een opvoedkundige kinderprogram per dag is genoeg.

Probleemoplosser: 24 tot 36 maande

  • Gaan voort met al die bogenoemde aktiwiteite.
  • Moedig haar aan om haar eie knope vas te maak en ritssluiters op te trek.
  • Laat sy jou help om klere in hopies te pak as dit gewas is en tel die items terwyl julle dit doen. Moedig haar aan om dinge volgens kleur te sorteer. Tel en sortering is belangrike wiskundevaardighede.
  • Stimuleer haar verbeelding deur vir haar genoeg geleenthede te gee om verbeeldingspeletjies te speel, soos in ma en pa se ou klere.
  • Bak iets saam.
  • Laat haar toe om haar eie besluite te begin neem, soos of sy die rooi of wit toppie wil aantrek.

In ’n neutedop:

Jy het nie hope duur programme of speelgoed nodig om jou baba se breinkrag ’n hupstoot te gee nie. Jy is haar beste leerinstrument: Praat, sing, lag en speel met haar so gereeld as wat jy kan!

Drie geheime van slim babas

  • Hoe spoggeriger en duurder die speelding, hoe minder sal jou kind haar verbeelding hoef in te span om daarmee te speel – en dit sal geensins haar breinontwikkeling aanhelp nie. Soek vir speelgoed wat haar verbeelding stimuleer. ’n Sandput waarin sy haar eie paaie kan bou is ’n beter idee as ’n plastiekmat met paaie wat reeds daarop geteken is. Maak seker speelgoed bied verskeidenheid en is veilig en geskik vir jou kind se ouderdom (kyk na die verpakking). Moenie vergeet nie, meisies het ook konstruksiespeelgoed nodig en seuns kan met poppe speel!
  • Probeer om nie jou kind te druk om te vinnig te ontwikkel nie. Babas kan nie goed aanleer tot hul gereed is daarvoor nie omdat hul senuweestelsels dit nie kan hanteer nie.
  • Kinders hou daarvan om die wêreld te verken, want dit is hoe hulle leer. Gee jou kind die geleentheid om dit te doen, maar maak altyd seker dit gebeur in ’n veilige omgewing.

- Lucy Taylor

Ekstra bron: Your clever baby: How to make the most of your child’s potential deur dr. Carol Cooper, gepubliseer deur Ryland, Peters & Small

© PLANET SYNDICATION