Lewer 30 happies.

Dis wat jy gaan nodig kry:

  • 2 knoffelhuisies, fyn gekap;
  • 1 uui, fyn gekap;
  • 15 ml pietersielie, fyn gekap;
  • 300 g gekookte ham, fyn gekap;
  • 120 g meel;
  • 600 ml melk;
  • 180 g Erik’s Gouda, in klein blokkies gesny;
  • 2,5 ml neutmuskaat;
  • 45 ml botter;
  • 2 eiers, geklits (vir beslag);
  • broodkrummels, gegeur met sout en peper (vir beslag);
  • 5 ml swartpeper.

Maak so:

Verhit die botter in ’n groot pot. Voeg die uie by en braai tot goudbruin. Voeg die knoffel by. Voeg die ham by en laat effe bruin word; voeg dan die sout, peper, neutmuskaat en pietersielie by. Voeg die meel by sodat dit ’n roux vorm. Voeg die melk bietjie-vir-bietjie by en klits deurentyd. Klits verder tot al die bestanddele deurgewerk is en die mengsel dik is. Hou die mengsel eenkant om tot kamertemperatuur af te koel. Sodra dit afgekoel is, rol die mengsel in balletjies. Sit ’n blokkie kaas in elke balletjie; maak seker daar is nie openings waar die kaas kan uitloop nie. Verkoel die balletjies minstens een uur. Plaas die geklitste eier in een bak en die broodkrummels in ’n ander. Doop die bitterballen in die eier en dan in die broodkrummels. Sit op ’n bord, verkoel nog 30 min. in die yskas en bak in olie tot goudbruin. Sit warm voor saam met mosterd.

Eet smakelijk!

-Resep deur Fairview