Die gids se dood was ’n “tragiese voorval”, het Brent Williamson, besturende direkteur van die safarimaatskappy Aventure Zone, gesê.

‘Uiters bekwaam’ 

“Ons moet tot ons spyt vir almal meedeel dat ons mak olifantbul (Mbanje) Saterdag om 14:30 een van ons personeellede aangeval het en dat die gids gesterf het,” het Williamson in ’n verklaring gesê wat aan News24 gestuur is.

Hy het gesê die gids, Enock Kufandanda, was vir 12 jaar met die maatskappy en “uiters bekwaam”.

Olifant was wees
Nasionale veldwagters het intussen die olifant doodgeskiet. “Daar is ’n voortgaande ondersoek oor hoe en hoekom die voorval plaasgevind het,” het Williamson gesê.

Hy het gesê die 30-jarige Mbanje was ’n weeskind van ’n ’n uitdunningsprogram in die nasionale parke en was sy lewe lank die 28-jarige olifantkoei Nkanyezi se lewensmaat.

Geen toeriste was teenwoordig ten tyde van die tragedie nie. Williamson het aan News24 gesê die maatskappy het beplan om later vanjaar die olifantritte stop te sit. Die olifante is hoofsaaklik vir “opvoedkundige interaksies” met kliënte aangehou, het hy gesê.

Verlies van broodwinner
Kufandanda se seun het aan die staatskoerant Chronicle gesê die olifantbul het sy pa aangeval toe hy en kollegas die diere bymekaar probeer kry het om in ’n kamp te sit.

“Ons is meegedeel dat hy saam met kollegas die olifante bymekaargekry het toe hy aangeval is,” het Shepherd aan die koerant gesê. Hy het bygevoeg dat die gesin hul enigste broodwinner verloor het. “Ons weet nie wat ons gaan doen nie. Ek is op skool en hy was die enigste broodwinner.”

Bron: News24