Die popkoningin Madonna vier Dinsdag haar 58ste verjaardag. Die Material Girl-sangeres het al vroegoggend haar aanhangers bedank vir hul gelukwensings en verjaardagboodskappe, wat by die duisende ingestroom het.

Sy het selfs onlangs behandeling ondergaan om haar hande jonger te laat lyk, berig The Sun.

Madonna het in 1978 in New York aangekom, berig die Britse webtuiste The Telegraph . En daardie tyd het sy net $35 (sowat R464,10) in haar sak gehad. Sy het as ’n kelnerin gewerk om ’n inkomste te verdien. Tog het sy oor die jare aangehou om grense te verskuif met haar liedjies se lirieke, danspassies en uitspattige en waaghalsige kostuums.

Wie kan dan nou haar visnetkouse, groot haarrekkies en kleurvolle baadjies van die 1980’s vergeet? En in 1990 het sy mense aan die praat gehad oor haar onderklere-geïnspireerde uitrustings vir haar Blonde Ambition-toer.

Volgens statisticbrain.com het Madonna, die ma van vier kinders, al meer as 305 miljoen albums verkoop.

En as sy nie albums verkoop het nie, het sy die media aan die gons gehad met omstrede publisiteitsfoefies.

In 2003 het Madonna opslae gemaak toe sy die popsangeres Britney Spears soen tydens ’n optrede by die MTV Video Music Awards. Sy het verlede jaar tydens die musiekfees Coachella dieselfde plan gehad toe sy die rapper Drake op die verhoog soen.

Sy is egter nie net een vir omstredenheid nie. Madonna doen graag liefdadigheidswerk in Malawi deur haar nie-regeringsorganisasie Raising Malawi. Sy het ook twee kinders uit Malawi aangeneem.

Die stilis Werner Wessels meen Madonna is ’n baanbreker.

“As jy na haar kyk, kan jy maar sê wat jy wil van haar styl en jy hoef nie noodwendig van haar te hou nie, maar sy was ’n baanbreker. Sy het baanbrekerswerk gedoen deur vir mense te wys jy kan net jouself wees. Jy hoef nie toe te laat dat ander mense vir jou voorskryf nie,” sê Werner.

Simon Rademan, die modeontwerper en skrywer van die boek The Style Bible, sê hy was in die 1980’s ’n aanhanger van Madonna, maar is nie meer nie.

“Ek dink nie regtig sy is tydloos nie. Ek dink net mense is nog behep met die 1980’s.”

Hy sê die lawwe en waaghalsige goed wat sy destyds aangevang het, het baie aandag getrek en die tonge laat klap. Hy onthou self ook haar korset met die keëls, wat later in die Jean Paul Gaultier-parfuumbotteltjies verewig is.

“Ek dink sy het wel die mode beïnvloed.” Hy meen egter haar publisiteitsfoefies kom deesdae eerder desperaat voor.

“Ek dink mense is bloot nostalgies. Ons is vandag blootgestel aan ’n groter verskeidenheid; daar is baie meer mense om uit te kies,” sê hy.

My first Ukulele performance! ???? A photo posted by Madonna (@madonna) on