Madonna het haar skildery deur die Franse kunstenaar Fernand Leger vir sowat R65 miljoen verkoop. Sy gaan die geld aan haar Ray of Light-stigting skenk ten bate van die opvoeding van meisies op agtergeblewe plekke.

Die Girls Gone Wild-sangeres het die Kubistiese stuk getiteld Three Women at the Red Table in 1990 vir R12 miljoen gekoop, maar het dit laat opveil om geld vir haar Ray of Light-stigting in te samel.

Madonna is in die wolke dat die kunswerk so ’n goeie prys behaal het toe Sotheby's dit Dinsdag (7 Mei) in New York onder die hamer geplaas het. Die opbrengs sal gebruik word om minderbevoorregte kinders op te voed.

Madonna (54) het haar opwinding op Facebook gedeel: “Dankie, almal wat moontlik gemaak het!”

Sotheby’s het gesê die opbrengs uit die verkoop van die skildery sal “ten bate van Madonna se Ray of Light-stigting wees wat opvoedingsprojekte vir meisies in die Midde-Ooste en Suid-Asië ondersteun”.

Die reuse skenking is die jongste in ’n rits weldade van die popsuperster in onlangse jare.

Madonna, die beskermvrou van Children of Peace, het ook haar eie organisasie, Raising Malawi, saam met Michael Berg gestig nadat sy haar seun, David (7), by ’n weeshuis in die distrik Mchinji aangeneem het.

Sy het onlangs vir die eerste keer in twee jaar met haar seun en aangenome dogter, Mercy (8), na die Afrikaland gereis nadat sy in die hof beloof het toe sy die meisietjie in 2009 aanneem, sy sal die kinders se geboorteland “elke twee tot drie jaar” besoek.