Volgens die tydskrif Forbes het Madonna die afgelope jaar die meeste geld verdien.

Die sangeres (55) is bo-aan die jaarlikse lys van rykes – ten spyte daarvan dat minder as ’n miljoen kopieë van haar onlangse album, MDNA, verkoop is. Tog het haar geraamde inkomste tussen Junie verlede jaar en Junie vanjaar na R1,25 biljoen opgestoot.

Aanhangers het tot R1 000 per kaartjie betaal vir Madonna se konserte op die toer, wat meer as R3 biljoen ingebring het. Madonna het ook baie geld gemaak uit die verkoop van handelsware, ’n klerereeks, parfuum en beleggings in maatskappye soos Vita Coco.

Die regisseur Steven Spielberg (66) was tweede op die lys, met ’n geraamde inkomste van R1 biljoen.

Sy uitgebreide biblioteek van klassieke rolprente soos Jurassic Park het die geld help invloei, terwyl verlede jaar se Lincoln, met ’n begroting van R650 miljoen, ’n inkomste van byna R3 biljoen gehad het.

Die gesamentlike derde plek, met ’n inkomste van R950 miljoen, was die skrywer van 50 Shades of Grey, E.L. James (50), die omroeper Howard Stern (59) en die TV-magnaat Simon Cowell (53).

Howard en Simon is ook onlangs deur Forbes as die hoogs betaalde TV-persoonlikhede in Amerika aangewys.